’n Natalse man is in ’n kritieke toestand nadat hy Donderdagmiddag twee verdiepings deur die dak van ’n winkelsentrum in Winkelspruit, Durban, geval het.
Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS-paramedici, sê gevorderde lewensondersteunende paramedici, tesame met ambulanse, is uitgestuur en het by die toneel opgedaag om die man in ‘n kritieke toestand te vind.
“Die man, vermoedelik in sy veertigs, het ongeveer twee verdiepings van die dak afgeval en het kritieke beserings opgedoen.
“Terwyl gevorderde lewensondersteunende paramedici gewerk het om die man te stabiliseer, is ‘n Rooi Kruis MNR-helikopter geaktiveer om die pasiënt vinnig na die Omar Alkadi-hospitaal in die Durban-omgewing te vervoer vir die verdere spesialissorg wat hy benodig,” het hy gesê.
Jamieson het bygevoeg gebeure wat gelei het tot die man wat deur die dak geval het, was onbekend.
Die polisie ondersoek die voorval.
