Die polisie in die suide van Johannesburg het Maandag beslag gelê op druktoerusting wat gebruik word om vervaldatums te verander asook ‘n besending vals gemerkte ingemaakte sardyne.
Kapt Tintswalo Sibeko, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die klopjag het by ‘n perseel in Daleside, naby Meyerton, plaasgevind.
“Die owerhede het beslag gelê op ‘n groot hoeveelheid vervalste Lucky Star-pilchards.
“Sewe onwettige immigrante tussen die ouderdomme van 18 en 29 is in hegtenis geneem. Die eienaar van die onderneming bly op vrye voet.”
Sibeko het gesê die polisie het ‘n saak van oortreding van die Wet op Voedsel, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en oortreding van die Immigrasiewet geopen.
