Liebenberg bewerings word net meer en meer

Liebenberg beweer hy het saam met Petzer na Namibië gereis om na grond te kyk.

Die diamanthandelaar Louis Liebenberg beweer Willem Petzer, die omstrede Facebook-aktivis wat hom onder meer teen plaasmoorde beywer, het hom geld gevra om grond en beeste in Namibië te koop.

Liebenberg het Donderdag vanuit die Kgosi Mampuru-korrektiewe fasiliteit waar hy aangehou word, gesê Petzer het hom genader vir geld om grond en vee in 2022 te koop.

Volgens Liebenberg het hulle toe saam met Rejoice Zuma, dogter van oudpres. Jacob Zuma, na Namibië gereis. Liebenberg het gedink sy kan ‘n swart ekonomiese bemagtigingsvennoot in die besigheid wees. “Ons het na grond gaan kyk, en Willem het vir Rejoice gesê sy moet asseblief stilbly, aangesien sy wit Afrikaanse volgelinge dit nie sal goedkeur dat hy met ‘n swart vrou sake doen nie,” het Liebenberg gesê.

Volgens Liebenberg en ‘n betroubare bron na aan hom het die transaksie egter nooit plaasgevind nie.

Petzer ontken dat hy fondse by Liebenberg gesoek het. Petzer se weergawe van wat gebeur het verskil van Liebenberg s’n.

Hy het ontken dat hy Liebenberg ooit vir geld genader het. “Louis het my genader en gesê hy wil betrokke raak by die werk wat ons doen. Op daardie stadium het ek geen idee gehad wie hy was nie.

“Geld is deurslaggewend in die werk wat ek doen en normaalweg sal ek so iets verwelkom, want geld is baie nodig om my in staat te stel om hierdie werk te doen. Ek het op daardie stadium vir Marieta Wilhelm, ‘n boer van Namibië wat aangehou en van moord aangekla is, gehelp nadat sy ‘n aanvaller geskiet het. Ons het ’n fonds geskep om vir haar regsverteenwoordiging te betaal.”

Volgens Petzer het Liebenberg gesê hy sal ook Namibië toe kom sodat hy kan sien hoe hy werk. “Hy het saam met Rejoice gekom, maar nie een van hulle het my ooit vergesel terwyl ek aan die saak gewerk het nie. Soos ek verstaan, het hy vergaderings met politici gehad.”

Hy het vinnig besef Liebenberg is agter sy meer as 200 000 volgelinge op Facebook aan om hulle te kry om deel te word van sy diamantskema, het Petzer gesê.

Liebenberg is tans verhoorafwagtend omdat hy na bewering ‘n bedrogspul met ongeslypte diamante en bedrog uitgevoer het.

“Nadat ek sy ware bedoelings besef het, het ek my afstand gehou. Ek het toe begin om ‘n groot deel van my tyd daaraan te wy om mense teen Liebenberg te waarsku, en slagoffers van Liebenberg op verskeie maniere te help, onder sterk aanval van Liebenberg op sosiale media,” het Petzer gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui