Tshwane-metropolisie sê ‘n verkeersbeampte wat op kamera vasgevang is terwyl hy omkoopgeld van ‘n motoris vra, sal geskors word.
Die beampte is Saterdag op Nelson Mandelaweg naby Fountains Valley in Groenkloof afgeneem.
Saterdag se voorval het sedertdien viraal op sosiale media gegaan.
Isaac Mahamba, woordvoerder van die TMPD, het gesê die beampte het ‘n kennisgewing ontvang van voorneme om hom te skors.
“TMPD neem met groot kommer kennis van die video wat op sosialemediaplatforms sirkuleer. In reaksie op die beweerde omkopery het die TMPD ‘n interne ondersoek ingestel.
“Die lid sal ‘n kennisgewing ontvang van voorneme om te skors, en hy moet redes aan die departement verskaf waarom hy nie binne 48 uur geskors moet word nie.
“ ’n Verklaring van die klaer en die lid word vereis as deel van die ondersoekproses.
“Hierdie beskuldigings van korrupsie is onversoenbaar met die departement se oortuigings en beginsels en sal beslis hanteer word,” het hy bygevoeg.
