Ondersoekers is glo verstom oor die brutale aard van die massiewe diefstal van Selati-suiker uit ‘n pakhuis in Johannesburg Vrydagoggend.
RCL Foods, wat Suid-Afrika se bekende Selati-suikerhandelsmerk vervaardig, het bevestig wat as die “suikerroof van die eeu” beskryf word.
Alhoewel RCL steeds verdere inligting insamel en mettertyd sy eie verklaring daaroor sal uitreik, berig die Alert South Africa Facebook-blad dat ‘n groep verdagtes Vrydagoggend omstreeks 08:31 ‘n pakhuis in Johannesburg se Isando-gebied binnegegaan het.
Luidens berigte het die verdagtes die pakhuispersoneel vinnig oorval en vasgebind.
Daarna het die bende se vloot van sewe vragmotors met superlink tautline sleepwaens by die pakhuis aangekom.
Epol – Artikel
“Owerhede het bevestig dat al die registrasienommers op die vragmotors en sleepwaens vals is, wat die ondersoek verder bemoeilik,” het die Facebook-plasing gesê.
Daar word verder berig dat die misdadigers “verstommende 247 palette Selati-suiker tussen 08:31 en 12:14 op die vragmotors gelaai het” voordat hulle die toneel met hul reuse vrag verlaat het.
Die publiek is gevra om op die uitkyk te wees vir hierdie voertuie. Die besonderhede van die voertuie is soos volg verskaf:
Wit Volvo (FC48CHGP) met wit/donkerblou sleepwaens.
Wit Scania R500 (DY99RMGP) met wit/blou sleepwaens; voorsleepwa het ‘n groen rand aan die regterkant.
Wit International 9800i (BM13XPGP) met blou sleepwaens.
Wit Volvo FH440 (FG64XXGP) met blou sleepwaens.
Wit Freightliner Argosy (125MJCGP) met blou sleepwaens.
White International 9800i (YMD124GP) met wit/blou sleepwaens.
Wit UD Quon (HJ42ZDGP) met wit/swart (verlepte) sleepwaens.
Indien jy enige inligting het oor hierdie voertuie of waar die gesteelde goedere is, kontak asseblief vir Juan Burger van Danie Day Private Investigators by 083 778 8460.
- Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.
