Geen misdaad word vermoed na Fichie-leerder sterf

’n Gr. 11-leerling van ’n Bloemfonteinse skool, wat die naweek oorlede is, sal as ’n merkwaardige jong man onthou word.

Louhen Bergh van die Hoërskool Fichardtpark het blykbaar die naweek sy eie lewe geneem, hoewel die redes daarvoor nog onbekend is, sê die skoolhoof, Herman van der Merwe, aan OFM Nuus

Geen misdaad word vermoed nie.

“Hoe sê jy tot siens as daar nog soveel is wat ons saam moes beleef? Te jonk, te vroeg, te vinnig,” sê Herman van der Merwe. Sy plek is “nou langs ons Hemelse Vader, waar ons mekaar eendag weer sal sien”.

Nadine Kruger, Bergh se registeronderwyseres, beskryf hom in ’n huldeblyk as iemand wat altyd “vriendelik, opreg en ’n ware gentleman” was. “Hy het altyd ’n glimlag gehad met soveel mooi in sy oë.

“Stil en op sy plek, maar hy was altyd gereed om te help as hulp verleen word. Sy plekkie by ons is leeg.”

Bergh was stil met ’n sagte glimlag, sê Suné Langeveld, nog ’n onderwyseres. “Hy was hardwerkend en het homself altyd met selfvertroue gedra en mens in die oë gekyk.

“Ons sal sy teenwoordigheid werklik mis.”

Volgens Van der Merwe is Bergh se skielike heengaan ’n groot skok vir sy skoolvriende vir wie hy ’n opregte vriend was. “Hy was ’n toegewyde jong man, ’n dromer en ’n ywerige werker.

“Hoewel hy stil was, het sy menswees almal se lewe geraak. Hy was ’n ware inspirasie.”

Verskeie skole soos die Hoërskool Sentraal, Grey Kollege, Oranje Meisieskool en die Laerskool Sand du Plessis het almal hul meegevoel betuig. 

“Dit is met leedwese wat die Tralie-gemeenskap verneem van die afsterwe van ’n gr.11-Fichardtpark-leerling. Ons innige meegevoel (met) sy familie, vriende en die Fichie-gemeenskap,” lui ’n verklaring deur die Hoërskool Sentraal.

“Oranje treur saam met Fichies,” skryf die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje. “Ons woorde is min, maar ons hart opreg by julle en Louhen se geliefdes.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui