Vermeende gesteelde chroom ter waarde van meer as R20m: 2 in Limpopo hof

Gary (63) en Justin Mark Mitchell (31) is borgtog toegestaan, en sal in 2025 saam met Jan Aucamp (64) na die hof terugkeer.

Twee mynboubestuurders, Gary (63) en Justin Mark Mitchell (31), is teen R5 000 elk vrygelaat nadat hulle Maandag in die Praktiseer-landdroshof in Limpopo verskyn het.

Die twee staan ​​tereg op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde chroom, ná hul arrestasies verlede Vrydag in Burgersfort, nadat hulle na bewering in besit gevind is van vermoedelik gesteelde chroom ter waarde van meer as R20 miljoen.

Volgens ao Lethunya Mmuroa, woordvoerder van die Limpopo Valke, volg die arrestasies op die vroeëre aanhouding van geoloog Jan Aucamp (64), wat op 12 Desember 2023 deur die Valke by Triton Mineral Africa in Steelpoort in hegtenis geneem is. Aucamp is na bewering met hope chroom ter waarde van R20 miljoen gevind en kon nie ‘n permit vir die besit daarvan voorlê nie.

“Die Valke het hom versoek om dokumentasie vir die chroom te verskaf, maar toe hy nie kon nie, is hy gearresteer vir die besit van vermoedelik gesteelde chroom,” het Mmuroa gesê.

Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat die Mitchells, wat glo topposisies by Triton Mineral Africa beklee het, ook met die onwettige chroomoperasie verbind word. Die saak is na die Direkteur van Openbare Vervolging verwys, wat gelei het tot die uitreiking van lasbriewe vir die twee uitvoerende beamptes.

Voorlopige ondersoeke het aangedui dat die chroom onwettig van verskeie myne in die Sekhukhune-distrik gemyn is.

Die Mitchells se saak is na die Burgersfort-streekhof verwys vir ‘n verhoor op 27 en 28 Januarie. Aucamp, wat ook uit is op borgtog van R5 000, sal na verwagting by hulle in die hof aansluit.

Gopz Govender, hoof van die Valke in Limpopo, het die span se pogings om onwettige mynbou in die provinsie te bekamp geloof. “Onwettige mynbou is ‘n ernstige misdaad wat dikwels deur georganiseerde kriminele netwerke gedryf word. Die Valke bly vasberade om hierdie aktiwiteite aan te pak,” het hy gesê en bygevoeg dat bedrywighede sal voortgaan om onwettige mynbou in Limpopo af te breek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui