Joshlin Smith se ma, Kelly, en haar drie medebeskuldigdes het Maandagoggend in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
In nog ‘n uitstel vir verdere ondersoek is die opspraakwekkende verhoor vir Joshlin Smith se verdwyningsaak deur landdros Theresa Postma na die Wes-Kaapse hooggeregshof terugverwys.
Dit nadat die staat aangedui het dat hy meer tyd nodig het vir verdere ondersoek aangesien nuwe inligting na bewering aan die lig gekom het.
Postma het dit egter duidelik gemaak dat dit die finale uitstel sal wees.
Joshlin Smith: Tragiese saak van vermiste Saldanha-meisie
Die Graad 1 Laerskool Diazville-leerling het op 19 Februarie 2024 byna sewe maande gelede uit die Middelpos Informele Nedersetting, naby Saldanhabaai, verdwyn.
Sedertdien is ‘n uitgebreide soektog – wat so ver as die Verenigde Koninkryk (VK) saam met Interpol gestrek het – van stapel gestuur om die sesjarige meisie op te spoor.
Haar ma, Racquel “Kelly” Smith, haar kêrel Jacquen “Boeta” Appollis, en die egpaar se vriende Steveno van Rhyn en Lourentia “Renze” Lombaard is in Maart vanjaar gearresteer en van mensehandel en ontvoering aangekla.
‘n Hoogswanger Smith – geklee in ‘n blommetjie-hemp met ‘n hoë kraag en ‘n swart pofbaadjie – het Maandagoggend 16 September vlugtig saam met haar medebeskuldigdes in die landdroshof in Vredenburg verskyn.
Hulle is met ‘n akte van beskuldiging en opsomming van feite bedien voordat Postma die saak na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas het waar die verhoor op 21 Oktober 2024 sal voortgaan.
Toe die vier beskuldigdes laas op 15 Julie in die beskuldigdebank was, het die staat ook meer tyd gevra om die saak te ondersoek.
Smith en Lombaard is in aanhouding in Kaapstad se Pollsmoor-gevangenis en Appollis en Van Rhyn by Malmesbury Korrektiewe Dienste.
Tydlyn: Wat het met Joshlin Smith gebeur?
Die 33-jarige Smith, wat erken het dat sy ‘n tik (crystal meth)-gebruiker is, het haar dogter – wat volgens haar siek was – in die sorg van Appollis gelaat toe sy op daardie noodlottige Maandagoggend ‘n los huiswerk gaan doen het.
Met haar terugkeer na die egpaar se woning omstreeks 17:00, was Joshlin vermis.
Appollis ontken enige betrokkenheid by haar verdwyning. Hy beweer die laaste keer wat hy haar gesien het, was toe sy buite gaan speel het.
Joshlin Smith-verhoor tot dusver
Tydens Smith, Appollis en Van Rhyn se eerste hofverskyning op 7 Maart het senior advokaat Aradhana Heeramun, wat vir die staat verskyn het, beweer Smith het Appollis en Van Rhyn opdrag gegee om Joshlin vir R20 000 vir tradisionele medisyne aan ‘n ander Middelpos-man te verkoop. Die twee mans het glo dié bekentenis gemaak ná ’n 36 uur lange ondervraging by Saldanha-polisiestasie.
By Lombaard se borgtogverskyning op 18 Maart het staatsaanklaer Jacques van Zyl in die hof onthul dat sy ‘n bekentenis voor haar arrestasie gemaak het. Geen verdere besonderhede van wat beken is, is egter verskaf nie.
Die kwellende wag vir antwoorde duur voort
Die vorige uitstel van die verhoor is gemotiveer deur die feit dat ondersoekers nog getuieverklarings moes bekom en data-ontleding op die beskuldigdes se selfone moes doen.
Die polisie het ook gewag vir die resultate van die DNS-ontleding van bloedbevlekte klere, ‘n mes en ‘n laken wat op 2 Maart in ‘n oop stuk veld sowat ‘n kilometer van Joshlin se huis gevind is.
Geen teken van klein Joshlin nie
Daar is geen nuwe inligting oor waar die groen-oog meisie is nie. ‘n Klein groepie Saldanhabaaiers soek egter steeds na Joshlin.
Enigiemand met inligting oor waar Joshlin hom bevind, kan Crime Stop anoniem kontak by 08600 10111, of SMS Crime Line by 32211.
