Saamgestel deur André Smit Volkskrag Nuusredakteur
Wat moet ons doen?
Ek wil vandag hierdie berig begin met: Volkskrag en Volkskrag nuus is begin om bewusmaking onder ons as volk te bevorder. Volkskrag Nuus is daar om die waardes en standaarde wat deur ons voorouers daargestel is weer onder ons as volk se aandag te bring.
Ons as volk het verdwaald en afvallig geword van ons geloof, volkskap, kultuur en beginsels! Ons as volk is besig om onder te gaan as gevolg van ’n gebrek aan kennis! Ons as volk is besig om onder te gaan omdat ons blindelings volg en nie ondersoek wat en wie ons volg nie!
Organisasies maak die regte geluide op die voorgrond maar agteraf heul hulle met die vyande! Mense wat gevolg word wat geen vorm van beginsels het nie!
Die wat opreg en eerlik probeer om die saak van die volk te bevorder word in die grond ingewerk. Die leuens van die organisasies word geglo en nagevolg.
Dr. Jann Schlebush is besig om sy hande stompies te werk om verootmoediging te bevorder. Hy is ook besig om te werk aan sake wat ons as volk moet aanspreek. Hier is al die punte tot dusvêr wat ons aandag aan moet gee as volk:
Verootmoedigings diens Sondag 1 September 2024
Daar vind eerskomende Sondag ’n verootmoedigings diens te Paardekraal monument in Krugersdorp plaas. Die verrigtinge sal om 12h00 begin maar dit is aanbeveelbaar om reeds 11h00 teenwoordig te wees.
Soos geskryf deur: Dr. Jann Schlebush
Dan 9:8 Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het.
1. Materialisme (Mammon):
Vertrou op materiële dinge: besittings, salaris, eie krag of fisiese vermoë (soos gesondheid)
Leef bo jou inkomste: Koop dinge wat jy nie kan bekostig nie: duur vakansie, kar, trekker, huweliksonthale, klere, veral matriekafskeidsrok, uiteet, kinderspeelgoed, selfoon,
Emosionele finansiële besluite: ons gaan hou vakansie, of ons gaan eet uit omdat ons finansieel swaarkry.
Die hoë lewenspeil veroorsaak dat mense minder kinders wil hê – dit is ook sonde, want dit is ‘n Bybelse opdrag om kinders te hê en te vermeerder. Minder as drie kinders dra by dat ons volk uitsterf.
Hier moet ons ook die verwaarlosing van ons arm volksgenote noem. Dit is een van die sondes wat die meeste deur die profete en deur Koning Jesus aangepreek is (Jes 1:14; Mt 25:31-46).
2. Sabbatsontheiliging:
Luister net na hierdie wonderlike belofte van die HERE [JHWH]:
Jes 58:13,14 As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van JHWH hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE (JHWH), en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE (JHWH) het dit gespreek.
Sabbatsontheiliging is een van die sondes wat die meeste beklemtoon word in die profeteboeke.
Sondag het ‘n dag van inkopies en vermaak geword; ook ‘n werksdag vir ander.
3. Menseverering:
3.1 Vertrou op mense, bv ‘n leier, politieke party of burgerregte organisasie, of die regstelsel ens
3.2 Verering van sporthelde; akteurs; kunstenaars; ryk mense (en ja, mense wat voorgee hulle is ryk)
3.3 Vraag: Is dit geoorloof om standbeelde van volkshelde te maak?
4. Geloftes:
Ons moet ons volksgeloftes eerbiedig en onderhou. Die geloftes is bindend op ons volk. Dit was die bedoeling. Die verwaarlosing van ‘n gelofte is ‘n ernstige oortreding. Dt_23:21 As jy aan die HERE [JHWH] jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.
5. Verafgoding van die wetenskap:
veral die mediese wetenskap: ons bid vir die herstel van ‘n siek mens, maar ná die tyd word net die dokter of die medisyne geprys.
6. Naturalisme (verafgoding van moeder natuur):
Dit word ‘n algemene beskouing dat die natuur onafhanklik werk en dat reën en droogte maar net van die natuur afhanklik is. Help ons iemand reg as hy hierdie beskouing uiter? Getuig ons dat God in beheer van die natuur is?
7. Drankmisbruik (Bacchus):
Ons bou ‘n kultuur rondom alkohol: Gesellighede moet met alkohol gepaard gaan. Ons kan nie meer braai of kuier sonder alkohol nie.
Glasies word geklink om mekaar gesondheid toe te wens. ‘n Gelowige vertrou nie op ‘n wens nie, maar op die krag van God. Glasies klink is onskuldig, maar dit is ‘n tipiese bygeloof. Ons moet mekaar eerder gesondheid toebid.
8. TV, selfoon en huisgodsdiens:
Die TV en die selfoon bedreig die sosiale interaksie en die goeie orde van die huisgesin. ‘n Huisgesin moet saam eet sonder selfone en TV. Daarna moet hulle saam huisgodsdiens hou en die sake van die huisgesin bespreek. Daarsonder word die gesin as God se Verbondstruktuur afgebreek. Huisgodsdiens lê die grondslag van kinderopvoeding en Bybelkennis. Dit is noodsaaklik vir die regte perspektief oor die gesagsverhoudings binne die huisgesin.
Die TV en die selfoon bied ook afbrekende programme en duiwelse propaganda aan wat ons siele besoedel. Ouers moet in ootmoed voor God onderskei waarna hulle kyk en waarna hulle kinders kyk. Let fyn op, want Satan is listig. Selfs baie skynbaar ‘onskuldige’ diereprogramme en strokies (“cartoons”) het ‘n duiwelse agenda. Ons moenie bang wees om hierdie baie belangrike saak aan te spreek nie – vrees God!
9. Kinderopvoeding:
9.1 Ons is geroepe om ons kinders in die vrese van die HEHE [JHWH] op te voed. Ons moet gereeld met ons kinders daaroor praat. Dt 6:7 “jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”
9.2 Voed kinders op in die waarheid: Ons moet ons kinders met Bybelkennis opvoed. Feeverhale, tandmuis en Kersvader is nie die waarheid nie. Moenie dit aanbied as die waarheid nie. Dit is tydmors en gevaarlik, want dit kan ‘n kind verwar en kan hulle vertroue in die ouers skend as hulle later uitvind dit is nie die waarheid nie.
9.3 Staatskole word verplig om ‘n goddelose leerplan te gebruik met ‘n Liberale en Marxistiese agenda. Daar is wel onderwysers wat steeds hulle bes doen om Christelike onderwys te gee – en so hulle loopbane op die spel plaas. Hiervoor eer ons God, maar as gevolg van die dwaling by die hoofstroomkerke is die meeste van hierdie pogings steeds besmet met Liberalisme. Die Marxiste sal in elk geval geen poging duld wat rassevermenging teenstaan nie, want dit is die speerpunt van hulle aanval op die Christendom. Die demoniese geslagsverwarring word ook nou toenemend gedryf.
9.4 Luiheid en gemaksug:
Ons het ‘n kultuur ontwikkel om ons kinders lui en onverantwoordelik groot te maak. Met die geweldige appél wat die skool en veral die sport op die kinders se tyd maak, sien ons nie meer kans om ons kinders op te voed met klein takies soos opruim; skottelgoed was; kar was; gras sny; ens nie. Ons leer hulle om laat te slaap oor naweke – en so bederf ons hulle sodat werk ook moeite is vir hulle wanneer hulle groot is. Dan is hulle ook nie gereed om veranwoordelike huweliksmaats te wees nie.
9.5 Respek en eerbied:
Ouers moet hulle kinders leer om hulle naaste en veral ouer mense te repekteer; ook om ander mense se eiendom te respekteer – selfs die klein dingetjies.
10. Verloën Christus:
Waarvan die hart vol is loop die mond oor. Ons moet lewende getuies van Christus wees. Ons moet mekaar tydig en ontydig vermaan en leer uit die Bybel. Maar ons gesprekke is ydel praatjies. Die algemene ‘wysheid’ is dat mens nie met familie of vriende oor Godsdiens of politiek moet praat nie (deesdae mag ons wel mekaar aanmoedig om vir die antichristelike DA te stem!). Dit is onbybels en daardeur verloën ons ons Verlosser en sy soenoffer.
11. Vreesagtigheid:
Ons is bang om ongewild te wees – by vriende, by ons kinders; by die werk, in die kerk; ons is bang :-
- om oor godsdiens te praat met familie en vriende;
- om ons werk te verloor;
- om met die gereg te bots oor ons godsdiens;
- om betrokke te raak by ons volksaak – in die besonder ons armblankes
Ons mag niemand of niks anders as God vrees nie. (Mt 10:28; Open 21:8) – ons sal bang wees, ja, maar ons moet op God vertrou en die vrees oorwin.
12. Passifisme:
Ons word aangeval met duiwelse propaganda. Een van die hooftema’s is verdaagsaamheid teenoor ander beskouings. Die media, veral die vermaaklikheidsmedia soos flieks en TV-series hou rasse-integrasie, buitehuwelikse seks en Liberale beginsels voor as normaal, aangenaam en goed. Daarteenoor hou hulle Bybelse beginsels en streng Bybelse standpunte voor as liefdeloos en afbrekend. Dit vind aanklank by ons sondige natuur en die propaganda is op leuens gebaseer. Nee, dit is ‘n oorlog en ons is geroepe tot stryd vir die Koningkryk van God – en dit is nie net ‘n geestelike stryd nie. Dit is primêr geestelik, maar dit het praktiese en fisiese toepassings. Selfs in die kerke word verkondig dat ons niks moet doen teen die gruwels wat gepleeg word nie – ‘ons moet net maar ons eie saak met JHWH regmaak’. Te veel hoor ons selfs van kansels af dat ons tog niks moet doen nie. Ons moet net vrede soek. Luister na hierdie waarskuwing aan die predikante in Jer_6:14 “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! —terwyl daar geen vrede is nie.”
13 Humanisme:
13.1 Satan en die wêreldheersers van hierdie eeu voer ‘n sielkundige oorlog teen ons (Ef 6:12 Ons volk het geswig voor die aanslag omdat ons nie paraat is en dit beveg met die wapenrusing van God nie. Ons het die mensgemaakte ideologieë van Individualisme, Liberalisme en Marxisme al tot ‘n groot mate aanvaar. Ons gedagtes en denke is besmet. Ons moet dit ontsmet deur terug te keer na die Skrifbeskouing van die Voortrekkers by Bloedrivier. Ons moet elke ideologie toets aan die Bybel.
13.2 Humanisme het selfs ons Godsdiens besmet: Om nie aanstoot te gee nie, word as Liefde tot ons naaste verkondig – en dan word dit nog bo liefde tot God gestel.
13.3 Verder is die hoofstroombeskouing onder ons volk is dat die mens se saligheid sentraal staan in ons geloofslewe. Hoewel ons saligheid en dus ook individuele sendingwerk belangrik is vir die mense, is dit nie die doel van ons Godsdiens nie. Die hoofdoel van ons Godsdiens om sy eer te dra en om aan sy Heerskappy te onderwerp; en daarom is die sendingopdrag die verkondiging van die evangelie aan die volke en om hulle te leer om Christus te gehoorsaam – dus Godvresende volkshuishoudings.
14 Statisme
In plaas daarvan dat ons God se Verbondstrukture in stand hou, soos die gesin, familie en volk, soek ons eerder eenheid in die staat volgens die Marxisme se leer. Die dwaling dat die staat (en die grondwet van die staat) die hoogste gesag is, is algemeen onder ons volk.
15 Louheid
God vereis dat ons Hom moet liefhê bo alles. Nie kerk of gemeente nie, nie ons kinders of ons geliefdes nie, maar God en sy gebod – sy Koninkryk en sy Geregtigheid. Dit moet ons passie wees. Die ander liefdesverhoudings is hieraan ondergeskik. So-nie is ons lou. Ware verootmoediging verg diepgaande selfondersoek. Die volgende stanpundte is lou en verwerplik voor JHWH:
my sondetjies is nie so erg nie;
almal doen sonde, daarom is dit nie so erg as ek dit doen nie;
ek weet wat ek doen is eintlik verkeerd, maar kyk wat doen ander.
Ons moet mekaar tydig en ontydig vermaan en onderrig uit die Bybel (1Tim 4:2)
maar ons gesprekke is ydel praatjies. Ons moet die kwaad onder ons volk uitroei.
16 Geluksgodin:
Dobbelary het baie toegeneem onder ons volk. Dit word ook al as aanvaarbaar beskou, maar dit is ‘n gruwel. Dit verarm ons mense en ons moet dit uitroei. Dit is ook dinkwels as gevolg van materialisme waar mense bo hulle inkomste leef en dan op die geluksgodin hoop om uitkoms te gee vir die onverantwoordelike besteding.
Wat beteken “Geluk met jou verjaarsdag”? ‘n Gelowige vertrou nie op geluk nie. Ons moet mekaar God se genade en seën toebid.
17 Hoerery en egbreuk:
Voorhuwelikse seks en buitehuwelikse seks het aanvaarde gedrag geword. Saambly is sonde. Trou hoef nie geld te kos nie. As julle voor God trou aanmekaar beloof in die teenwoordigheid van albei se ouers, dan is julle getroud – tot die dood julle skei.
18 Sodomie
Selfs selfdegeslag verhoudings en -huwelike word toenemend as normaal beskou. Hierteen is darem nog sterk beswaar, maar ook sommige kerke dryf die agenda.
19 Rassevermenging:
Rassevermenging is teen God se skeppingsorde en ook ‘n opstand teen God se skeiding van volke by Babel (Gen 11). Hy het self die grense tussen volke daargestel sodat ons Hom in volksverband moet soek (Hd 17:26,27 – 1953 vertaling). Dit is juis om die volkereverskeidenheid en die Christendom te vernietig dat die Marxisme rasse-integrasie so sterk dryf – en die hoofstroomkerke het voor hierdie aanslag geswig – soveel-so dat iemand wat dit afkeur as ‘onchristelik’ verguis word!
20 Hoogmoed en Ydelheid:
20.1 Toe ons ‘n Godvresende volkshuishouding onder Dr Verwoerd was, het ons Vader ons uitsondelik geseën – ingevolge sy Verbondsbeloftes (Dt 28). Ons het Eskom. Sasol, Yskor, die Spoorweë ens alles binne ‘n paar jaar tot stand gebring. Al ons ondernemings was van die beste in die wêreld. In plaas van dankbaarheid en eer aan God, het die beskouing dat ons volk die beste is, algemeen geword. Dit is die beskuldiging in Jes 1:2,3 Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want JHWH spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree. ‘n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.
20.2 Ons moet ook Ydelheid hier noem – dames wat aantrek om te vertoon en wat uitlokkend aantrek. Veral die openlike vertoon van hulle liggame veral op die strand het heeltemal verregaande geraak. Daar is baie ander voorbeelde van ydelheid, maar weer moet ons die matriekafskeidrokke noem.
21 Tempelbeskadiging:
Ons beskadig ons liggame met rook; tatoëring, ongesonde leefstyl, dwelms, drankmisbruik.
22 Godsdienstige verdeeldheid:
Ons is verdeeld in honderde denominasies wat verskillende Skrifbeskouings het. Dit mag nie. Ons is geroepe tot eensgesindheid. Dit is ‘n Bybelse opdrag:
Rom_15:5 En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus (ook Rom 12:16; 2Kol 13:11; Fip 2:2; 3:16; 4:2; 1Pt 3:8)
Mat_12:25 Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.
Ons is immers die ‘liggaam’ van Christus.
23 Ondermyning van Skrifgesag:
Skrifkritiek word al jare by ons Teologiese skole geduld. Dit kom in kort daarop neer dat mens nie alles kan glo wat in die Bybel staan nie en eintlik kan jy maar glo wat jy wil.
Sedert 1983 het ‘n nuwe dwaling toegeneem – selfs by baie van die meer behoudende Teoloë, naamlik Tekskritiek. Dit kom in kort daarop neer dat wetenskaplikes nou die reg het om die Bybel te ‘verbeter’, want, omdat die Bybelboeke met die hand oorgeskryf is, “beskik ons (volgens hulle!) nie meer oor die geïnspireerde Woord van God nie!”
Hierdie lys sal aangevul word soos wat Dr. Jann dit uitbrei.
