Geskryf deur – Willie Cloete Volkskrag voorsitter
Ek dink aan Israel wat in ballingskap weggevoer is en onder vreemde oorheersing gestaan het.
IS ONS NIE OOK IN BALLINGSKAP GEPLAAS NA 1994 nie?
Ons het nie meer ‘n land wat ons ons eie kan noem nie.
Ons as Boere-Afrikaners is vreemdelinge in ons eie land.
Ons word oral gedwing om Engels te praat.
Ons straat- en dorpname word verander sodat jy begin dink jy is in die verkeerde dorp.
Jy is nie meer in beheer van jou eie toekoms nie.
Ek glo daar is baie van ons wat al tot die punt gekom het waar jy selfs in jou eie woongebied waar jou wortels diep lê, voel dit is nie meer my woongebied hierdie nie.
Dit is baie sigbaar waar mense oud word en kleiner gaan; of by kinders kamp gaan opslaan – dat die huise verkoop word en vreemdelinge intrek – dan voel jy nie meer tuis nie, want die hele karakter van die gebied word verander.
Ons moet meer begin laertrek in ons eie gebiede waar jy weer tuis kan voel en jou kultuur kan uitleef. Ek glo ook dat diegene wat die land verlaat ook so voel. Jy voel ontuis want jou taal en kultuur is nou niks werd nie.
Ons as Volk kan nie weer ‘n ‘groot trek’ hê en verhuis na ʼn onbewoonde gebied nie.
Alle grond behoort nou aan iemand en jy kan nie net besit neem van die grond en gebied nie.
Ons as ‘n Volk sal ons eie trek moet beplan en uitvoer.
As ons weer Selfbeskikking wil hê, moet ons ‘n gebied van ons eie hê waar ons weer oor ons eie lot en kultuur besluit.
VOLKSKRAG werk saam met ander belangegroepe om ons identiteit en lotsbestemming te bevestig.
Ons volk is nie net in fisiese ballingskap nie. Ons is ook in geestelike ballingskap – waarin ons vyand ons geplaas het met al die vreemde dogma wat nou verskyn, bv soos die beskouing dat daar geen Duiwel is nie; vreemde, onchristelike lewensbeskouings word op ons afgedwing en ons moet maar net verdraagsaam wees!
Ons moet ons losmaak van die liberale teoloë en die media wat sulke snert propageer. Ons moet weer op God vertrou en sy Woord ons enigste rigsnoer maak.
Dit alles moet egter ook met dade gepaard gaan waaraan ons daadwerklik moet begin werk om ons self te bevry en veg vir SELFBESKIKKING vir ons VOLK – dat ons ook kan terugkeer uit ons ballingskap en weer ʼn Godvererende volkshuishouding kan oprig.
Die eerste toets wat ons moet slaag is om op te hou om ons volksgenote voortdurend te kritiseer oor nietige dinge en eerder eerlike oplossings probeer vind vir ons probleme.
Die Koninkies moet af klim van hulle trone en eerder punte van samewerking kry. Werk saam daaraan om ons Volksgenote wat in armoede gedompel is daar uit te kry met projekte wat werk skep en hou op om volksvreemdes in diens te neem. Gee van ons mense wat wil werk ‘n kans. Glo my daar is hope van hulle – gee hulle net n kans.
