Minister Groenewald gryp in by bendeleier se tronkoorplasing

Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, het ingegryp in die verplasing van die berugte leier van die 28’s-tronkbende, George “Geweld” Thomas, na die Helderstroom-gevangenis in die Wes-Kaap.

Dit volg na ‘n oproep vanuit gemeenskapsleiers weens die hoë risiko wat Thomas se teenwoordigheid vir gemeenskappe van die provinsie kan inhou.

Thomas dien minstens 175 jaar gevangenisstraf uit ná sy skuldigbevinding in 2015 op meer as 50 aanklagte, insluitend:
• Sewe aanklagte van moord
• Drie aanklagte van poging tot moord
• Elf aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens
• Tien aanklagte van die onwettige besit van ammunisie
• Twee aanklagte van rampokkery
• Drie aanklagte om aan ‘n kriminele bende te behoort
• Drie aanklagte van sameswering om ‘n misdaad te pleeg
• Tien aanklagte van aanhitsing tot ‘n misdaad
• Een aanklag van huisbraak met die doel om roof te pleeg
• Drie aanklagte van diefstal

“Ons sal op ‘n deurlopende basis met gemeenskappe saamwerk om die stelsel te verbeter en die positiewe verandering wat dit vir kwesbare gemeenskappe kan bring, te maksimeer,” het Groenwald gesê.

Die departement het in ‘n verklaring verduidelik dat Thomas “vinnig herlei” is na ‘n alternatiewe maksimum-sekuriteitsfasiliteit.

“Die departement sal ook dringend die saak deeglik ondersoek om die redes vir die gevangene se onreëlmatige verskuiwing te identifiseer.

“Met die klem op die behoefte aan gemeenskapsbetrokkenheid, het die Minister ook vandag ‘n vergadering met gemeenskapsverteenwoordigers deel van die Kaapse Misdaadkrisis-koalisie gehad om betrokke te raak by die kommer en moontlike ingrypings om die teenwoordigheid van slegte rolspelers in gemeenskappe wat deur bendeverwante geweld gebuk gaan, tot die minimum te beperk,” het die departement afgesluit. – SAnews.gov.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui