Nog klagte kan teen die 95 “geheime militêre kamp”-verdagtes aanhangig gemaak word wat Maandag ‘n tweede keer in die Witrivier-landdroshof in Mpumalanga verskyn het.
Dit volgens die Mpumalanga Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nadat die bende se saak tot later in die maand uitgestel is vir verdere ondersoek.
Die 95 Libiese burgers word van die oortreding van die Suid-Afrikaanse Immigrasiewet aangekla nadat die provinsiale polisie verlede maand op ‘n plaas naby Witrivier toegeslaan het, en ontbloot wat blykbaar ‘n geheime militêre basis was om die Libiese burgers op te lei.
Dit het gevolg op ‘n wenk van gemeenskapslede van die Masoyi-dorpie naby die basis.
Kol. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die NVG het inligting oor dié plaas ontvang wat tot die arrestasies gelei het.
Owerhede het die geheime militêre kamp gevind nadat inwoners van die nabygeleë dorpie Masoyi gekla het dat die Libiërs plaaslike inwoners terroriseer. Dorpsbewoners het nou sake van kriminele optrede, insluitend verkragting, geopen, volgens die NVG se Monica Nyuswa.
Daar was ook ’n probleem met hul visumaansoeke wat daartoe gelei het dat die departement van binnelandse sake dit teruggetrek het.
Volgens die polisie het die mans op hul visumaansoeke beweer dat hulle as veiligheidswagte opgelei gaan word, maar daar is vermoed dat hulle militêre opleiding ondergaan. Binnelandse Sake het gesê die mans het die land binnegekom met visums wat “deur wanvoorstelling in Tunis, Tunisië” verkry is.
“Die kansellasie van die visum beteken dat al die geaffekteerde Libiërs nou ongedokumenteerde buitelandse burgers is,” het Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, gesê.
Volgens die dorpenaars naby die kamp het die verdagtes wat in hegtenis geneem is dorpie vir drankies besoek en het na bewering verwoesting veroorsaak onder die lede van die gemeenskap, wat ‘n aantal sake aanhangig gemaak het.
Nyuswa het Maandag ná die hof die media toegespreek en gesê die NVG, saam met die polisie, werk onverpoosd daaraan om te verseker dat die uitstaande ondersoeke afgehandel word.
“Die saak is uitgestel om aanvanklik ‘n Arabiese tolk te kry, asook vir verdere ondersoeke. Toe hulle vandag in die hof verskyn het, was die Arabiese tolk by die hof. Die ondersoeke sal bepaal of nog aanklagte bygevoeg gaan word en of nog arrestasies gemaak sal word,” het sy gesê.
Tydens die hofverrigtinge het presiderende landdros Eddie Hall gesê die hof hoef nie die rede vir die uitstel in detail te oorweeg nie omdat daar geen beswaar was nie.
“Dit blyk dat daar steeds kriminele aanklagte is wat deur die staat voorberei word, so daar is ‘n versoek om uitstel te kry, en in die lig daarvan is ek tevrede dat daar voldoende rede is vir die hof om die versoek te oorweeg, veral wanneer daar geen opposisie is nie … Daarom sal ek die uitstel tot die 26ste Augustus toestaan.
“Al die beskuldigdes is in aanhouding by die Nelspruit-gevangenis en sal in aanhouding bly tot hul volgende verskyning,” het Hall gesê.
Jackie Macie, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het gesê hy is bly die staat se plan is om nog klagtes teen die verdagtes in te dien.
“Ek is bly, want dinge verloop volgens die plan. Hulle het ons genoeg tyd gegee om ons ondersoeke af te handel … ek hoop teen die 26ste Augustus sal ons die ondersoek afgehandel het sodat ons ons saak voor die hof kan stel.”
The Star
