’n Man wat ’n vrou in ’n winkel doodgeskiet het, het glo toe homself op die parkeerterrein om die lewe gebring.
Die polisie ondersoek ‘n moord nadat ‘n vrou doodgeskiet is voordat die skieter na bewering verlede Donderdag by ‘n winkelsentrum in Irene die pistool op homself gedraai het.
Die skietery het omstreeks 09:30 plaasgevind.
’n Bron op die toneel sê die skieter was ’n PRSS-sekuriteitswag by die sentrum, terwyl die vrou geïdentifiseer is as Frieda Amese, ’n ma van twee.
Amese was ‘n skoonmaaktoesighouer vir Afri-Services en is beskryf as ‘n ywerige en sorgsame persoon en ‘n mentor vir ander by die maatskappy.
Die toneel van die skietery.
Ao Johan van Dyk, woordvoerder van die Tshwane SAPD, sê die motief vir die skietery is onduidelik.
Luidens ’n polisieverslag was die skieter en Amese net voor die skietery in ’n onderonsie betrokke.
“Hy het sy vuurwapen uitgepluk en die vrou geskiet.”
Hy het toe agter ‘n ander man gejaag wat daarin geslaag het om te ontsnap en ‘n ander veiligheidswag te waarsku.
“Hy het die vuurwapen op homself gedraai en selfmoord gepleeg.”
Van Dyk sê ‘n geregtelike doodsondersoek en moorddossier word ondersoek.
Nooddienste nie-winsgewende Cert-SA het bevestig dat twee mense in die voorval by Byls Bridge Promenade-winkelsentrum in Centurion dood is.
“Met aankoms is ‘n man doodgeskiet in die parkeerterrein gevind.
“Verdere assessering het aan die lig gebring dat ’n vrou ook by haar werkplek in ’n winkel in die winkelsentrum doodgeskiet is.”
Poena Jansen van Rensburg, PRSS-woordvoerder, sê hulle ondersoek die skietery.
Hy sê hulle kan nie kommentaar lewer voordat die ondersoek afgehandel is nie.
“Ons sal ook volle bystand aan die SAPD verleen in hul ondersoek.
“Ons medelye met die familie van die oorledene individue,” sê Jansen van Rensburg.
