Sentraal Transvaal – ‘n Man het Vrydagaand omstreeks 21:00 sy lewe verloor nadat hy ongeveer 500 meter van die Carousel-tolplaza op die N1-hoofweg, noord van Pretoria, stilgehou het.
Live Traffic sê twee mans het stilgehou om langs die pad te urineer toe hulle deur vier gewapende verdagtes uit die bosse oorval is. Een van die mans is doodgeskiet, waarna die verdagtes met geroofde selfone gevlug het.
Die polisie en Max Tactical Security Services het hulle na die misdaadtoneel gehaas.
Live Traffic sê ‘n nagsig-hommeltuig is gebruik in ‘n poging om die verdagtes op te spoor, maar dit was onsuksesvol.
Waarskuwings oor paaie in en om die Sentraal Transvaal word reeds vir ‘n geruime tyd uitgereik.
Live Traffic waarsku weereens motoriste om uiters versigtig te wees op dié paaie en te vermy om veral in die aande op die N1-hoofweg stil te hou. Enige verdagte aktiwiteite moet onverwyld aan owerhede gerapporteer word.
Wetteloosheid word reeds maande op die paaie in en om Pretoria beveg. Verskeie persone het al hul lewens verloor, terwyl ander gelukkig genoeg was om slegs skade aan voertuie op te doen.
