Buurman gevonnis na pa op seksvideo met minderjarige dogter afkom

NOORD-KAAP. – ‘n Buurman (47) van ‘n meisie (13), van wie ‘n seksvideo op haar selfoon gevind is, is op aanklagte van voorbereiding van ‘n minderjarige, statutêre verkragting en kinderpornografie gevonnis.

Lt.kol. Sergio Kock sê die polisiebestuur verwelkom die 24 jaar tronkstraf wat aan die beskuldigde in die Port-Nolloth-landdroshof opgelê is. Die pa het op 27 Oktober 2022 ‘n video waarin die buurman seksuele omgang met sy dogter het, op haar foon gekry. Hy het dadelik ‘n klagte by die polisie aanhangig gemaak, waarna die buurman in hegtenis geneem is. Die buurman is op al die aanklagte teen hom skuldig bevind en is Vrydag soos volg gevonnis.

Die buurman is skuldig bevind vir die volgende aanklagte:
1 – Statutêre verkragting- ‘n vonnis van ses jaar
2 – Blootstelling van ‘n kind aan pornografie – ses jaar
3 – Die voorbereiding van ‘n kind – ses jaar
4 – Die gebruik van ‘n kind vir pornografie – ‘n verdere ses jaar tronkstraf opgelê.

Aanklag 2 en 4 se vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat beteken die buurman sal effektief ‘n vonnis van tot 12 jaar tronkstraf uitdien.

Sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Kock sê speur.sers. Shaun Brandt van Port Nolloth-GKS is deur lt.genl. Koliswa Otola vir die suksesvolle ondersoek en afhandeling van die saak geprys.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui