Verskeie voertuie het laasnag oor staalpenne op die N12 gery en volg dit net ‘n maand na die sakeman, Johan Cowan, doodgeskiet is.
‘n Voorbeeld van hoe ‘n wiel lyk nadat dit oor staalpenne gery het.
Johan Cowan is sowat ‘n maand gelede doodgeskiet. Alle aanduidings is dat dit moontlik die werk van die Blouligbende kon wees.
In een van die meeste gevalle waarvan nog gehoor is, het vyf voertuie laasnag oor staalpenne op die N12 gery.
Die voorval het omstreeks 22:22 op die N12 naby die Khaya Oord aan Delmas se kant op die N12 plaasgevind.
Daar is op noodgroepe aan Gauteng se kant oor die voorval gewaarsku en is alle aanduidings dat daar gelukkig nie enige aanvalle of beserings was nie.
Die N12 het ‘n roofparadys geword vir aanvallers wat motoriste teiken deur staalpenne of selfs klippe op die pad te gooi, wat veroorsaak dat bande bars en motoriste noodgedwonge moet stop.
Saam met die staalpen-rowers, slaan die Blouligbendes vir die afgelope 10 jaar sporadies toe.
Laasgenoemde groep doen hulself voor as polisielede en stop motoriste, waartydens die insittende in die voertuie gekaap word en in die meeste gevalle later iewers in ‘n veld afgelaai word.
Die staalpen-insident volg net sowat ‘n maand nadat die bekende sakeman van Middelburg, Johan Cowan (49) op 16 Junie dood in sy bakkie by die Snake Road afrit gekry is. Sy voertuig het nog geluier toe dit gevind is.
Hy is twee keer geskiet.
Johan was ‘n Direkteur van Genet Mineral Processing en is uitgeroep na een van hul nuwe myne op Vanderbijlpark.
Sy ma, Anne Cowan (ook ‘n inwoner van Middelburg), het die volgende dag gesê dat hy die hele tyd in verbinding was met sy vrou, Lunilda.
Lunilda het onrustig geraak toe hy nie meer met haar kontak gemaak het nie en het sy en die werknemers aanmekaar na sy selfoon toe gebel.
Vroeg die oggend is hy in sy luierende bakkie gevind.
Die aanvallers het net sy beursie waarin kontant, asook sy bank- en identiteitskaarte was, gevat.
Sy wapen, selfoon en ander persoonlike besittings was nog in die voertuig.
Kort na die aanval op Johan, is die taakspan van Mike Bolhuis se Specialised Security Services deur Johan Cowan se familie en kollegas aangestel om sy moord saam met die polisie te help ondersoek.
Die aanval op Johan het net sowat ‘n week na ‘n soortgelyke voorval gevolg, waar waar ‘n paartjie van Gauteng gekaap is.
Hulle moes ‘n voertuig in Middelburg kom afgee en is deur die blouligbende by Delmas gekaap.
Die bende het hulle afgetrek met blou ligte en het aanvanklik vriendelik gevra dat hulle moet uitklim sodat ‘n roetine-deursoeking van die voertuig gedoen kan word.
Die oomblik toe hulle buite staan, is hulle teruggedwing in die bakkie in en is daar teruggedraai na Johannesburg, waar daar later met hulle in ‘n onbekende area rondgery is.
Later is hulle in die veld by die Tsakane nedersetting afgelaai. Die kapers het hul bankkaarte gevat en hulle met wapens gedwing om hul pinkodes te gee.
‘n Plaaslike WhatsApp groep, “Spikings Alzu to N12”, is intussen deur Middelburger Arthur Hill (Dagpatrollie) begin om motoriste in Middelburg en die omliggende streke in Mpumalanga ingelig te hou oor staalpen-insidente op die hoofweë.
