Agt mense is in hegtenis geneem vir verskeie aanklagte ná inbrake by drie selfoontorings in die Richardsbaai-distrik
Richardsbaai-distrik se ekonomiese infrastruktuur-taakspan het Donderdag agt buitelandse burgers op ‘n verskeidenheid aanklagte gearresteer.
Dit het ingesluit peuter met noodsaaklike infrastruktuur, besit van vermoedelik gesteelde eiendom, ontvangs van vermoedelik gesteelde eiendom, asook die besit van huisbreektoerusting.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda het gesê daar is by drie selfoontorings in die distrik ingebreek.
“Donderdag is vier verdagtes in Gingindlovu gearresteer omdat hulle met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het. Die arrestasie het die polisie na ‘n geïdentifiseerde perseel in Chatsworth gelei waar nog vier verdagtes op heterdaad betrap is om vermoedelik gesteelde selfoontoringbatterye te verpak.
“Veertig selfoontoringbatterye van drie selfoonnetwerkmaatskappye ter waarde van R1 miljoen is in die besit van die verdagtes gevind,” het Netshiunda gesê.
Hy het bygevoeg dat al agt verdagtes, tussen 35 en 49 jaar oud, van dieselfde buurland is.
“Vier van hulle het Vrydag in die Chatsworth-landdroshof verskyn en hulle is in polisie-aanhouding hangende die polisie-ondersoek. Die ander vier verdagtes het in die Mtunzini-landdroshof verskyn. Hulle sal na verwagting Woensdag om borgtog aansoek doen,” het hy gesê.
