’n Moordsaak word ondersoek nadat ’n vrou se lyk agterop ’n bakkie wat twee insittendes gehad het gevind is.
Twee verdagtes is Vrydagaand, tydens ‘n padblokkade deur metropolisie op die M41 naby La Lucia Ridge, in hegtenis geneem nadat ‘n vrou se lyk agter in die voertuig gevind is waarin hulle gery het.
Die lyk is agter op die bakkie gevind.
“Die voertuig is tydens ‘n stop-en-deursoek padblokkade op die M41 deur metropolisiebeamptes voorgekeer. Die bestuurder het wankelrig begin raak en probeer om van wetstoepassers en die toneel te vlug, en amptenare het gejaag,” sê kolonel Boysie Zungu, woordvoerder van die Durban-metropolisie.
“Met ‘n deeglike ondersoek en deursoeking van die voertuig is ‘n menslike liggaam ontdek. Medici is na die toneel ontbied en het bevestig dat die persoon dood is. Die twee verdagtes is by die Durban-Noord SAPD-stasie aangehou vir verdere ondersoek.”
Na verneem word is ‘n saak van moord geopen.
Die skakelbeampte van die Durban-Noord-GPF, Darryl Oliver, wat ook op die toneel was, bevestig die vrou se liggaam was agter in die verdagtes se voertuig met sakke en karton bedek.
“Die bestuurder van die voertuig het van die toneel gevlug met van ons GPF-lede wat agternagesit het. Die verdagte het na ‘n nabygeleë kantoorpark gevlug, toe Durban Metropolisie en SAPD-lede by ons lede aangesluit het in die jaagtog. Die verdagte, wat gevind is waar hy in die kantoorblok weggekruip het, is ‘n rukkie later deur die Durbanse metropolisie aangekeer en is terug na sy voertuig begelei.
“Durban North GPF, metro en SAPD-lede het ‘n deeglike deursoeking van die voertuig gedoen en ‘n menslike liggaam gevind wat bedek was met karton en sakke met klere en komberse. Ons wil graag ons lede, sowel as die wetstoepassers, prys vir hul vinnige reaksie en besliste optrede wat daartoe gelei het dat die verdagtes aangekeer is,” voeg Oliver by.
Die polisie het ook 16 arrestasies by dieselfde padblokkade gemaak, glo vir dronkbestuur.
