By die stembus – Wat om te verwag

Wat gebeur by die stemlokaal, hoe lyk ʼn geldige stembrief en waarmee moet jy voorbereid kom op stemdag? Hier is alles wat jy moet weet van stemdag.

Die stempunte is op 29 Mei vanaf 07:00 tot 21:00 oop. Dit beteken nie dat jy voor 21:00 klaar gestem moet wees nie, maar dat jy beslis voor 21:00 in die ry binne die periferie van die stemlokaal moet staan om te stem, anders sal jy nie kan stem nie.

Die OVK-kiesbeamptes by stempunte sal soms as ʼn vergunning bejaardes, swanger vrouens en ma’s met babas voor in die ry laat staan. Dit is egter nie iets waarop jy kan staat maak nie!

Vanjaar is die eerste jaar waar kiesers uitsluitlik kan stem by die stempunt waar hulle geregistreer is. Jy kan dus by geen ander stempunt in jou provinsie gaan stem soos vorige jare nie

Kiesers kan slegs met ʼn geldige Suid-Afrikaanse ID-dokument stem – hetsy jou groen ID-boek, jou ID-kaart of ʼn geldige tydelike ID-dokument. ʼn Bestuurslisensie, paspoort of afskrif van jou ID sal nie deug nie.

Swart penne word by elke kieshokkie voorsien, so dit is nie nodig om jou eie skryfbehoeftes saam te neem nie.

Wie is almal daar?

By elke stempunt sal daar ʼn paar groepe mense teenwoordig wees. Die eerste is natuurlik die kiesers wat wag om te stem of reeds gestem het.

Die tweede is die party-agente – hulle is vrywilligers van verskillende politieke partye wat op die dag buite die stemlokale teenwoordig gaan wees om kiesers te help en vrae te beantwoord. Hulle rol as waarnemers van die stemproses is ook om te verseker dat die verkiesing sonder enige probleme en onderduimshede plaasvind. Die Kieswet verbied dié verteenwoordigers om amptelike partydrag binne die kieslokaal op stemdag te dra. Dit staan gewone kiesers egter vry om aan te trek wat hulle wil.

Indien jy enige verdagte optrede of verkiesingsverwante verskynsels by jou lokaal opmerk, kan jy dit gerus by een van die party-agente aangee vir verdere ondersoek.

Die derde groep is verteenwoordigers van die OVK. Dit is hierdie verteenwoordigers se werk om die hele dag te administreer en seker te maak dat elke stempunt suksesvol bedryf word. OVK-beamptes sal op die dag in die kommissie se kleure (blou en wit) aangetrek wees.

Die laaste groep is onafhanklike waarnemers. Daar behoort by die meeste lokale onafhanklike waarnemers te wees – hierdie is mense van organisasies wat ʼn waghondrol vervul om te verseker die verkiesing is vry en regverdig. Hierdie groep sluit gemeenskap-, burgerregte‑ en buitelandse organisasies in.

Met jou aankoms in die stemlokaal sal ʼn OVK-beampte jou ID-dokument kontroleer om seker te maak dit is geldig. ʼn Volgende, of dieselfde, beampte sal jou ID-dokument skandeer om seker te maak jy word afgemerk op die kieslys – dit is om te verseker dat elke geregistreerde kieser net een keer stem.

By elke stemlokaal is daar ook ʼn harde kopie-kieserslys waarop al die geregistreerde kiesers by die bepaalde lokaal gelys is. Jou ID-dokument word teen hierdie lys gekontroleer en jou naam afgemerk sodra jou ID geskandeer is.

Dit dien as bykomende maatreël om seker te maak die regte persoon stem één keer by die regte lokaal.

Nadat die kiesbeamptes jou ID skandeer het, jou op die kieslys afgemerk het en tevrede is dat jy die regte persoon op die regte plek is, sal jou linkerduim met ink gemerk word. Sommige video’s doen die rondte wat beweer dat jy nie kan stem as jy nael-kuns op jou linkerduim het nie – dit is eenvoudig nie waar nie.

Dan kry jy jou drie stembriewe. Dit is belangrik om seker te maak dat jy drie stembriewe ontvang, elk met ʼn geldige stempel op die agterkant. Jy sal net drie stembriewe ontvang as jy by jou geregistreerde stemlokaal opdaag. Indien jy aansoek gedoen het om by ʼn lokaal te stem buite die provinsie waar jy aanvanklik geregistreer is, kry jy net die nasionale stembrief (en nie die twee provinsiale briewe nie).

Om enige probleme in hierdie verband te vermy, word dit ten sterkste aanbeveel dat jy net gaan na die stempunt waar jy geregistreer is – ongeag hoe lank die ry is.

Na ontvangs van jou drie stembriewe, sal jy na ʼn opslaanhokkie gaan om jou stem uit te bring. Hier sal ʼn swart pen wees waarmee jy moet stem. Indien daar enige ander skryfding as ʼn swart pen is – soos ʼn potlood, glimpen of kryt – versoek gerus ʼn swart pen om mee te stem.

Onthou om op elke liewe een van die drie briewe ʼn kruisie te trek. Die stembriewe is lank vanjaar, so neem gerus ʼn oomblik om deur al drie te gaan.

Ten einde ʼn geldige stem uit te bring, moet jy op elke stembrief een kruisie langs die party of kandidaat van jou keuse maak.

Doen moeite om seker te maak jou kruisie is perfek en duidelik sodat daar geen moontlikheid is vir jou stembrief om bederf te wees nie.

Indien jy dink jy het ʼn fout op ʼn stembrief gemaak, roep ʼn OVK-beampte nader en versoek gerus ʼn nuwe stembrief. Maak dan weereens seker die stembrief is agterop gestempel.

Kiesers mag geen foto’s van hulself in die stemhokkie óf met hul stembriewe neem nie – dit is teen die wet. Dit is om die integriteit van die verkiesing te help verseker.

Kiesers gaan vir die eerste keer in ‘n algemene verkiesing drie stembriewe ontvang

Twee bokse

Nadat al drie jou stembriewe suksesvol ingevul is, kan jy elkeen netjies opvou. Daar is twee bokse op die vloer waarin jou stembriewe gaan. Twee van die stembriewe gaan in die nasionale boks (die nasionale kompenserende stembrief en die nasionale streeksetel-stembrief) en die provinsiale stembrief gaan in die provinsiale boks.

Maak voor die tyd seker jy weet hoe die onderskeie stembriewe lyk. Indien jy onseker is oor watter stembriewe in watter bokse gaan, vra gerus vir hulp.

Rapporteer ongerymdhede

As jy enige ongerymdhede by jou stemlokaal waarneem, kan jy dit onder die aandag van enige van die OVK-beamptes, die waarnemende beampte van die stemlokaal of party-agente teenwoordig bring. Jy kan daarna ook die OVK se hulplyn by 0800 11 8000 skakel om enige amptelike klagtes in te dien.

Moenie disinformasie versprei

Waak egter daarteen om sonder enige gronde disinformasie op stemdag te versprei – dit kan voornemende kiesers moontlik onnodig afskrik om te gaan stem. Daar is genoeg amptelike kanale en bevoegde waarnemers waarna jy jou kan wend indien enige ongerymdhede opgemerk word. Maak liefs van dié kanale gebruik vir enige en alle klagtes op die dag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui