Een plaasmoord elke week

Iemand word bykans elke week op ʼn plaas in Suid-Afrika vermoor.

Dié statistiek vorm deel van AfriForum se jongste jaarlikse verslag oor plaasaanvalle en -moorde wat Maandagoggend in Centurion vrygestel is. Daarvolgens is 49 mense in 2023 op plase vermoor (0,94  moorde per week). Dié moorde is tydens 296 plaasaanvalle (5,7 per week) gepleeg.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Afriforum se gemeenskapsveiligheid, sê die polisie moes verlede week die misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van die 2023-’24-boekjaar bekendgestel het, maar het duidelik nie kans gesien om dit op die vooraand van die verkiesing te doen nie.

Dié statistieke toon wel ʼn effense afname van vorige jare. Daar was 43 minder aanvalle, van 339 in 2022 tot 296 in 2023.

Die burgerregteorganisasie het egter die dubbele standaarde in die polisie se benadering ten opsigte van die voorkoming van en ondersoeke na sekere misdade gekritiseer en voer aan geen moord mag as minder belangrik geag word nie.

“Wanneer moorde ʼn unieke aanslag het, soos wat die geval met plaasaanvalle en -moorde is, behoort ʼn gespesialiseerde benadering gevolg te word,” sê Broodryk. Hy sê misdaad en geweldsmisdaad in die besonder het in Suid-Afrika ʼn pandemie geword wat oënskynlik buite beheer geraak het, terwyl die Suid-Afrikaanse regering en topleierskap van die polisie min gedoen het om hierdie plaag te bekamp. “Geen moord is belangriker as ’n ander nie, maar net so is geen moord ook minder belangrik as ’n ander nie. Wanneer dit by plaasmoorde kom, is dit egter presies hoe die Suid-Afrikaanse regering dit sien,” benadruk hy.

Johan Nortjé, navorser van die AfriForum-instituut sê die meeste plaas- en hoeweaanvalle het verlede jaar in Gauteng plaasgevind, met 83 aanvalle en 11 moorde. Daarvan was 63% op plase en 37% op hoewes.

Broodryk sê wanneer dit kom by sommige ernstige en georganiseerde misdade, soos transitorooftogte, onwettige mynbou en polities gemotiveerde moorde, word spesiale ministeriële taakspanne vir voorkoming en ondersoekdoeleindes saamgestel. Dan word bykomende hulpbronne aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gegee en ʼn bepaalde benadering deur die polisie en ander rolspelers gevolg.

Hy sê hoewel ʼn gespesialiseerde benadering tot unieke misdade verwelkom moet word, bestaan vrae oor waarom die Suid-Afrikaanse regering weier om dieselfde benadering met plaasaanvalle en -moorde te volg. “In sekere gevalle is die voorkoms van plaasaanvalle en -moorde veel hoër, meer gewelddadig en vereis ʼn veel meer gespesialiseerde benadering as sekere van die misdade wat wel geprioritiseer word.”

Broodryk sê 40 politieke sluipmoorde en 41 moorde wat met onwettige mynbou-bedrywighede verband hou is verlede jaar gepleeg, teenoor die 49 plaasmoorde volgens AfriForum se databasis.

“Die voorkoms van 234 transitorooftogte in 2023 het ’n gespesialiseerde optrede van owerhede tot gevolg gehad. Daarteenoor word die 296 plaasaanvalle in dieselfde jaar skynbaar geïgnoreer.”

“Die waarde wat die ANC-regering op menselewens plaas, word duidelik nie gelyk beoordeel nie. Hierdie dubbele standaarde is skokkend,” voeg Broodryk by.

Hy sê AfriForum vra nie vir spesiale behandeling van plaasmoorde en -aanvalle nie, maar bloot vir gelyke behandeling.

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en ʼn boer van Limpopo, sê die daling in plaasmoorde en -aanvalle word verwelkom, maar meen dit het nie gebeur weens ʼn afname in misdadigheid op plaasgebiede nie, maar omdat plaas- en buurtwagte meer doeltreffend geraak het. “Gewone boere en inwoners patrolleer in die aande hul gebiede, met die ondersteuning van AfriForum se meer as 170 veiligheidstrukture en meer as 10 000 opgeleide vrywilligers landwyd. Dié strukture slaag telkens in die afweer van plaasaanvalle en die aankeer van misdadigers.”

Só lyk gevalle en slagoffers in 2023

AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling het in 2019 ʼn databasis begin om rekord te hou van plaasaanvalle en -moorde.

Die data wys die meerderheid plaasaanvalle (85) is tussen Julie en September aangeteken, met 34 aanvalle net in Augustus.

Die meeste moorde (12) het in Junie plaasgevind.

Die data toon verder 81% van plaasmoordslagoffers is mans en 19% vroue. Twee derdes van die slagoffers was egter ouer as 60 jaar.

Die jongste slagoffer was ʼn 14-jarige seun wat van voor in die bors geskiet is. Die oudste slagoffer was ʼn 87-jarige man wat saam met sy seun deur vyf gewapende mans op sy plaas oorval is.

Luidens die verslag word meeste van hierdie moorde gekenmerk aan buitengewoon hoë vlakke van brutaliteit. Die meerderheid van slagoffers (25) is doodgeskiet, 13 is dood weens aanranding, hetsy met ʼn voorwerp geslaan of met ʼn skerp voorwerp gesteek.

“In sommige gevalle is die slagoffers so erg aangerand dat hulle weens aanranding dood is. Soos die geval van ʼn boer in die Oos-Kaap wat geslaan is en met ʼn brandende voorwerp gemartel is,” lui die verslag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui