’n 82-jarige man van Oos-Londen, is weens ʼn hartaanval in ʼn hospitaal oorlede, twee weke nadat hy deur twee honde verskeur is. Die voorval het op Vrydag 4 Mei om 08:30 in die Stirling-woonbuurt plaasgevind.
ʼn Boerboel en ʼn rifrug-boerboel-kruising het uit die erf ontsnap nadat hul eienaar by die hek uitgery het en die slagoffer aan die arm en bene gegryp. Die slagoffer het glo by familie in die omgewing gekuier en het in die straat verbygeloop toe die honde hom bestorm.
Jason Mcdowell, DA-raadslid, is van die voorval op ʼn WhatsApp-groep in kennis gestel en na die toneel ontbied.
“Beamptes (sekerheidsmaatskappy en paramedici) het die slagoffer in die straat agter die huis waar hy gekuier het, aangetref. Hy was in totale skok gewees en is dadelik na ʼn hospitaal geneem,” het Mcdowell gesê.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) is ook ontbied en die twee honde is van die perseel verwyder.
Ian Lombard, bestuurder van die DBV in Oos-Londen, sê die honde is van kant gemaak en die oorskot is na die staatsveearts gestuur om vir moontlike hondsdolheid te toets. “Ons hoop om die uitslae teen Maandagmiddag van die veearts te kry.”
ʼn Geregtelike doodsondersoek is intussen na die slagoffer se dood van stapel gestuur. Die eienaar van die honde het ook na sy familie uitgereik en gesê hulle is bitter jammer oor wat gebeur het. “Ons het die honde uitgesit en is bereid om ten volle vir die man se mediese onkoste te betaal. Ons wil die familie graag ondersteun, maar weet nie hoe nie,” het die eienaar aan Mcdowell gesê.
Lombard sê dit is noodsaaklik dat hondeienaars hul diere ten alle tye binne hul residensiële eiendom hou, om die veiligheid van inwoners en kinders wat verbystap, te verseker.
“Troeteldiere moet van kleins af opgelei word, aan leibande of binne die erf gehou word. Plaas waarskuwingstekens op jou heining as jou hond ʼn geskiedenis van aggressie het,” het Lombard gesê.
Mcdowell sê dit is kommerwekkend hoe baie inwoners die Wysigingswet op Diere-aangeleenthede verontagsaam.
“Ons kry ál meer oproepe oor honde wat sonder die toesig van hul eienaars of sonder leibande in woonbuurte rondloop. Ons wil enige toekomstige voorvalle soos dié van die oorledene verhoed, deur mense bewus te maak van die nagevolge.
