Polisie ‘verswyg’ misdaadsyfers voor verkiesing

Die feit dat die polisie nie Vrydag, soos verwag, die kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak het nie, wys dat die stygende misdaadvlakke vir die regering ʼn verleentheid is wat hy so kort voor die verkiesing wil wegsteek.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die vorige statistieke wat in Februarie vanjaar uitgereik is, het getoon dat veral geweldsmisdaad aanhou styg en dat Suid-Afrika nou vinnig die misdadigste land ter wêreld begin word.

“Dit is daarom onaanvaarbaar dat lede van die publiek, wat uitgelewer is aan misdadigers en geweldsmisdaad, nie ingelig word oor die jongste stand van sake nie,” sê hy.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, stem saam dat Bheki Cele, minister van polisie, die bekendmaking van die syfers uitgestel het om “verleentheid” voor die verkiesing op 29 Mei te vermy. Hy bestempel dit ook as ʼn “onaanvaarbare verpolitisering van statistieke wat in die openbare belang is”.

Die polisie het vroeër ʼn tydraamwerk bekend gemaak met die bekendmakingsdatums van die statistieke. Tot dusver is daar by dié datums gehou.

“Die feit dat dit nie bekend gemaak is nie, skep dié vraag: wat steek jy weg, min. Cele?” sê Whitfield.

Die drukgroep Action Society het ook vrae, veral so kort voor ʼn verkiesing “wat die posisie van die regering bedreig en een wat talle hoop ʼn draaipunt in die land se huidige trajek na onregeerbare anargie” gaan wees.

“Bheki Cele het gewys dat die ANC vir hom belangriker is as Suid-Afrikaners se veiligheid,” sê Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society.

“Dit is erg genoeg dat misdaadslagoffers ure lank moet wag vir die polisie om by misdaadtonele op te daag; nou moet die hele land wag vir die polisie om verslag te doen daaroor.”

Groenewald sê ook met die besluit maak die regering dit duidelik dat hy die belange van die ANC bo die veiligheid en belange van lede van die publiek stel. “Misdaad raak alle Suid-Afrikaners, ook die ondersteuners van die ANC en die VF Plus sal daarop aandring dat dit wel voor die verkiesing op 29 Mei bekend gemaak word.”

Action Society eis ook groter deursigtigheid en sê ongelukkig is die misdaadsyfers, verskriklik soos dit is, ʼn wanvoorstelling van die werklike misdaadsituasie in Suid-Afrika. Action Society meen mense het alle vertroue in die polisie en die regstelsel verloor en daarom word misdaad geweldig onderrapporteer.

“Die bekendmaking van die misdaadsyfers wat op die nippertjie gekanselleer is, is gevoelloos en ʼn belediging vir die burgers van die land. Dit is ʼn aanduiding van die algehele ineenstorting van die polisie se onafhanklikheid van die regerende party te midde van geweldsmisdaad wat die hoogte inskiet en mense se gebrek aan vertroue in die polisie wat op die hoogste vlak ooit is,” sê Du Preez.

Whitfield sê daar is geen rede om te glo dat die misdaadsyfers nie steeds ʼn opwaartse neiging – soos in die verlede – volg nie en dat dít die rede is hoekom die minister die statistieke verswyg.

Die DA het ook reeds aan die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, geskryf om te eis dat hy in die openbare belang ingryp en die misdaadsyfers sonder versuim bekend maak. Die party het ook aan die statistikus-generaal geskryf om sy ingryping te vra om die geloofwaardigheid van die statistieke te verseker.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui