Twee jong vroue is Donderdagaand 25 April in Afrikaner straat in Roosheuwel Klerksdorp raakgery terwyl hulle van die kafee af terug huis toe gestap het.
Die twee niggies, Nadine en Eldean Pieterse, het saam met Eldean se broer en sy meisie al geselsend langs die sypaadjie gestap toe die voertuig hul tref. Nadine (26) se klere het aan die bakkie gehaak en sy is etlike meter ver gesleep. Sy het later die aand in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Eldean (21) wat skrams getref is en uit haar skoene gery is, se ligamente in haar been is af.
Die bestuurder van die rooi Isuzu-bakkie het weggejaag en nadat sy motor se registrasienommer op die toneel opgetel is, is hy by sy huis in Meiringspark in hegtenis geneem. Hy gaan waarskynlik vandag van strafbare manslag aangekla word.
Volgens Eldean se ma, Elvera, is daar aan haar gesê dat die man onder die invloed van alkohol was. “Hy het blykbaar aan die polisie gesê hy het gedink hy het ‘n hond raakgery. Ons is verpletter. Nadine was soos ‘n kind in my huis. My dogter verwyt haarself. Ons lewe het in ‘n oogwink verander. Ek is net dankbaar die polisie het die man opgespoor,’’ het sy Vrydagoggend aan Klerksdorp Rekord gesê.
Die polisie het bevestig dat ‘n middeljarige man in hegtenis geneem is. Hy sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
