Raaisel oor Golf Park-gesin, honde se dood

Die ma, pa en seun (45), sowel as die gesin se twee honde, is dood in hul woning in Golf Park aangetref.

MEYERTON. – Die polisie is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek nadat drie ontbinde lyke Woensdagmiddag 17 April by ‘n huis in Golf Park, Meyerton aangetref is.

Vaalweekblad verstaan die lyke van Hans Roos, sy vrou, Susan Roos, hul seun Hansie Roos, en die gesin se diere is by hul woning in Suikerbos straat aangetref nadat bure gekla het oor ‘n onaangename reuk en vlieë.

Volgens konst. Tlaleng Moloi, ‘n woordvoerder vir die polisie in Meyerton, het die polisie op die lyke afgekom toe hulle omstreeks 15:15 op ‘n klagte van ‘n lid van die publiek gereageer het.

“Die polisie het na die genoemde adres gegaan en met hul aankoms het hulle gevind dat die die huis en sy vensters deur vlieë omring was. Nadat polisielede die huis betree het, het hulle drie ontbinde liggame (twee mans en een vrou), sowel as twee dooie honde aangetref. Die persone is op die toneel deur paramedici dood verklaar,” sê Moloi.

Volgens Moloi is die oorsaak van die sterftes in hierdie stadium onbekend.

Die polisie het ‘n beroep op mense met inligting gedoen om na vore te kom.

Die ondersoekbeampte, A.O. Kekana kan by 073 780 9154 geskakel word.

Persone met inligting kan ook die Meyerton-polisiestasie by 016 360 4700, of die polisie se Stop misdaad-nommer by 08600 10111 skakel.

Die MySAPS-toepassing kan ook gebruik word om inligting vertroulik deur te gee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui