LAINGSBURG – Die strategiese ontplooiing van polisie langs snelweë, deurpaaie en sekondêre paaie in die aanloop tot Paasnaweek-vieringe het reeds dividende gelewer met die konfiskering van dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van R7 miljoen op die N1 by Laingsburg.
Op Woensdag, 27 Maart 2024 omstreeks 21:20, het Laingsburg-polisielede ‘n voertuig kontrolepunt op die snelweg uitgevoer waar hulle ‘n aflewerings vragmotor afgetrek het. Hulle het die voertuig genader en opgemerk dat die bestuurder verdag opgetree het. Die waaksame lede het dadelik met ‘n deursoeking van die voertuig begin toe hulle verseëlde bokse in die kajuit ontdek het. Met die oopmaak van die bokse en gereedskapkissie het lede pakkies mandrax-tablette ontdek wat daarin opgeberg was. Altesaam 145 000 mandrax-tablette is gekonfiskeer en die polisie het die vragmotorbestuurder gearresteer op aanklag van handel in dwelms.
Die saak is toegewys aan ondersoekers verbonde aan die Wes-Kaapse provinsiale speurders (narkotiese afdeling) vir verdere ondersoek.
Die 44-jarige verdagte bly in polisie-aanhouding. Hy sal na verwagting op 02 April 2024 in die Laingsburg-landdroshof verskyn op die genoemde aanklag.
Waarnemende Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, generaal-majoor Preston Voskuil, het gesê: “Die konfiskering van so ‘n groot hoeveelheid dwelms is duidelik van die sukses van ons operasionele ontplooiing. Die ontplooiing van hulpbronne langs in- en uitgangs roetes is in lyn met die polisiëring prioriteite om die invloei van onwettige dwelms, ongelisensieerde vuurwapens en onwettige goedere na die provinsie te beperk. Hierdie ontplooiing sal vir die res van die vakansietydperk en daarna gehandhaaf word”, het hy afgesluit.



