WES-KAAP – Rochellin Adriana Baartman (41) het vandag in die Mitchell’s Plain-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal, vervalsing en kwytskelding nadat ‘n lasbrief van arrestasie teen haar uitgevoer is deur die Valke se ondersoekspan vir ernstige kommersiële misdaad.
Daar word berig dat Baartman tussen 01 Januarie 2019 en 31 Desember 2020 as finansiële administrasieklerk by Hoërskool Lentegeur aangestel is.
Sy was in ‘n gesagsposisie en verantwoordelik vir die opstel van die rekwisisie dokumente asook die vaslegging van die betalings op die aanlyn bankstelsel.
Altesaam 66 transaksies is deur Baartman voltooi waarin betalings aan haar persoonlike bankrekeninge gemaak is.
Ondersoek het aan die lig gebring dat die verskaffers se fakture gewysig is om die besonderhede van Baartman te weerspieël. Betaalstrokies vir die tydperk November 2020 tot Februarie 2021 is op bedrieglike wyse geskep wat aangedui het dat sy ‘n salaris van beide die Departement van Onderwys en die Skoolbeheerliggaam ontvang het. Sy het vyf verskillende metodes gebruik om betalings te verwerk.
Die Hoërskool Lentegeur het gevolglik ‘n verlies van R503 445,61 gely.
Baartman word borgtog van R20 000.00 toegestaan en die saak word tot 13 Mei 2024 uitgestel vir verdere ondersoek.
