Foto slegs vir illustrasie doeleindes
Na ‘n kontant roof byna ‘n dekade gelede, waarby twee polisiebeamptes betrokke was, sal Bheki Cele, minister van polisie, se kantoor nou byna R94 miljoen moet opdok om die verliese te dek.
Die Gautengse hooggeregshof, Pretoria, het bevind die minister is plaasvervangend aanspreeklik vir die optrede van die twee beamptes. Dit was gegrond op ‘n vorige uitspraak van die Konstitusionele Hof waar bevind is dat wanneer opsetlike kriminele afwykende optrede van die polisie ten nouste met die minister se besigheid verband hou, hy plaasvervangend aanspreeklik gehou kan word in ‘n deliktuele eis om skadevergoeding.
Nou oud-polisiebeamptes, Lekele Rekson Lekola en Tamsanqa Gladstone Khubeka, was onder ‘n groep wat laataand van 27 April 2014 deelgeneem het aan ‘n goed beplande rooftog by die Witbank-perseel van die maatskappy bekend as SBV.
SBV neem onder andere bewaring van kontant namens kliënte in die banksektor deur veilige kontant hantering, veilige bewaring, vervoer en verwante dienste aan sy kliënte te verskaf in terme van dienskontrakte met al die groot banke.
Die Underwriters by Lloyd’s of London, wat nou die geld van die SAPD terugeis, het ten tyde van die rooftog onderneem om SBV skadeloos te stel vir verliese aan kontant onder laasgenoemde se beheer.
Die rowers het by SBV se perseel ingebreek en R101 207 456.28 in kontant gesteel wat in ‘n kluis deur SBV namens al sy bankkliënte beveilig is. Dit het kontant ingesluit wat deur die banke se kleinhandelkliënte gedeponeer is.
Die destydse speurkonstabel Khubeka en ao Lekola was destyds verbonde aan die SAPD Trio-eenheid by die Witbank Polisiestasie. Dié eenheid is spesiaal gestig om kaping, moord en roof in die Witbank-omgewing te ondersoek, te voorkom en te bekamp.
Lloyd’s van Londen het in hul aansoek gesê die egpaar het deelgeneem aan die beplanning, regie en uitvoering van die rooftog, en om die opsporing en behoorlike ondersoek van die roof te voorkom. Hulle het ook alle pogings om die gesteelde kontant terug te kry, verhoed en gefnuik. Dus, het dit geredeneer, moes die minister verantwoordelik gehou word vir hul optrede.
Die twee is saam met hul medebeskuldigdes in 2018 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die hof het destyds gehoor die rowers het hulself voorgestel as lede van die SBV-hoofkantoor wat werknemers by die perseel wou ondervra. Sodra die perseel oopgemaak is, het hulle die werknemers oorrompel.
Hulle het ‘n gespesialiseerde industriële boor gebruik om in die kluis te kom waaruit hulle ‘n bedrag van R104 440 845,60 gesteel het. Sowat R6 miljoen is teruggevind.
Lloyd’s het aangevoer dat die minister plaasvervangend aanspreeklik was teenoor elkeen van SBV se kliënte wat verliese gely het weens die roof.
Die minister, daarenteen, het aangevoer dat sy kantoor nie aanspreeklik is nie, aangesien Khubeka en Lekola op hul eie opgetree het toe hulle aan die roof deelgeneem het.
Die advokaat wat vir die minister optree, het erken dat beide Khubeka en Lekola tydens en ná die rooftog aan diens was.
Regter Natvarlal Ranchod het bevind dat die diensooreenkomste SBV uitdruklik aanspreeklik gemaak het vir die verlies vir enige rede, insluitend aanspreeklikheid volgens gemenereg.
Tydens die verhoor het die eiser (Lloyd’s) getuienis gelei wat getoon het dat Nedbank, as die gasheer bank, die eienaar was van al die kontant in die SBV-depot.
Nedbank was die party wat die verlies gely het en SBV het slegs Nedbank gevrywaar, nie die ander banke nie. SBV was streng aanspreeklik teenoor Nedbank vir die verlies wat laasgenoemde in die rooftog gely het.
Dit was om hierdie rede dat Nedbank die eise van die ander banke en die kleinhandelkliënte afgehandel het vir al die deposito’s wat gesteel is.
Regter Ranchod het tot die gevolgtrekking gekom dat op grond van die diensvlakooreenkoms wat in plek is, en die minister wat plaasvervangend aanspreeklik is vir die optrede van die SAPD-beamptes, die kantoor van die minister aan Lloyd’s ‘n bedrag van R93 919 298,47 moes betaal.
Dit was vir die kontant wat nooit teruggevind is nie.
Pretoria News
