Drie monnike is vermoedelik gisteraand wreed buite Cullinan vermoor en ‘n vierde het die aanval oorleef. Fr. Takla Ava Markos en drie van sy kollegas is gister (tyd nog onbekend) by die Koptiese klooster, wat onder die Koptiese kerk in Parkview ressorteer, aangeval. Dit is nog nie bekend in watter gebou op die perseel hulle aangeval is nie. Die ander slagoffers se name is ook nog nie bekend nie.
Die motief vir die moorde is nog onbekend aangesien niks van waarde gesteel is nie. Fr. Markos se silwer Toyota dubbelkajuit bakkie is onaangeraak op die toneel gelaat. Die polisie ondersoek die saak en verdere inligting sal volg sodra dit bekend is. Fr. Takla is die man met die lang baard wat agter die ander priesters staan op die foto.
Minah ava Markos en Youstos ava Markos is die twee ander persone wat vermoor is.
Die kerk se woordvoerder sê in ‘n verklaring wat Dinsdag op Facebook geplaas is: “Drie monnike is in ons Koptiese klooster aan ‘n kriminele aanranding onderwerp.” Een van die drie monnike was die adjunk van die bisdom van Suid-Afrika, luidens die verklaring. In die Facebook-plasing is die slagoffers genoem as monnik Hegumen Takla El-Samuely, monnik Yostos Ava Markos en monnik Mina Ava Markos. “Die betrokke instansies het by die klooster aangekom en hul ondersoeke na die voorval begin. Die Egiptiese ambassadeur in Johannesburg het ook na die klooster gegaan om die situasie op te volg,” het die kerk gesê. Polisiewoordvoerder, kolonel Dimakatso Nevhuhulwi, het gesê die polisie ondersoek ‘n moordsaak ná die dood van “drie priesters” by ‘n kerk in Cullinan. Al drie is gesteek.
‘n Vierde persoon, wat die aanval oorleef het, is met ‘n ysterstaaf geslaan. Hy het gevlug en tydens die aanranding in ‘n ander kamer weggekruip. “Die verdagtes het glo die toneel verlaat sonder om enige waardevolle items of eiendom van die plek af te neem. Die motief van moorde is in hierdie stadium onbekend,” het Nevhuhulwi bygevoeg.
Die kerk se verklaring het aangedui dat ‘n interne ondersoek van stapel gestuur is, en dat die Egiptiese ambassadeur in Suid-Afrika ingelig is. “Die kerk spreek sy diepe angs uit oor die voorkoms van so ’n tragiese voorval, betuig sy innige meegevoel met die families van die drie monnike, en is vol vertroue dat slegs die barmhartige en regverdige God in staat is om vertroosting te verleen en die waarheid te openbaar, ” het dit gesê.
Die polisie het enige iemand wat inligting het wat die ondersoek kan help, versoek om die Cullinan-polisiekantoor by 012 734 0751, of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
