NVG weier om Ramaphosa of enigiemand anders in Phala Phala-saak te vervolg


Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het geweier om president Cyril Ramaphosa of enigiemand anders wat met die Phala Phala-skandaal verband hou, te vervolg.

Die Limpopo Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) advokaat Mukhali Ivy Thenga het die besluit geneem om niemand in verband met die saak te vervolg nie.

Die DOV het gesê die besluit kom nadat ‘n omvattende ondersoek deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI) gedoen is.

Arthur Fraser, voormalige direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA), het ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Saps) gelê teen die president en generaal-majoor Wally Roode.

“Die klaer het die SAPD versoek om die optrede van die president en dié van generaal-majoor Wally Roode te ondersoek en beweer dat dit neerkom op die pleging van geldwassery en korrupsie,” het advokaat Mthunzi Mhaga, woordvoerder van Limpopo, Donderdagaand gesê.

“Die ondersoeke het ook enige moontlike oortreding van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 en Valutabeheerregulasie 1962 gedek. Dit was ná die inbraak en diefstal van ‘n onbekende bedrag Amerikaanse dollars by Phala Phala Plaas, Bela Bela, Limpopo.”

Die DOV het bygevoeg dat die besluit om nie te vervolg nie geneem is na ‘n deeglike evaluering van alle relevante bewyse wat die DPCI aan die aanklaers verskaf het.

Thenga het tot die gevolgtrekking gekom dat die getuienis in die dossier nie ‘n redelike waarskynlikheid van ‘n suksesvolle vervolging ondersteun nie, het die DOV gesê.

“Die DOV het haar besluit geneem in ooreenstemming met die Vervolgingsbeleid van die NVG, wat bepaal dat ‘n aanklaer, wanneer hy besluit om strafregtelike verrigtinge teen ‘n beskuldigde in te stel, moet bepaal of daar voldoende en toelaatbare bewyse is om ‘n redelike vooruitsig van ‘n suksesvolle vervolging.”

Die faktore wat oorweeg word wanneer die aanklaer bewyse evalueer, sluit in:

Die sterkte van die saak vir die staat,
Die beskikbaarheid van bewyse
Of die staatsgetuies waarskynlik geloofwaardig sal wees
Die toelaatbaarheid van getuienis
Die betroubaarheid van bewyse
Die sterkte van die saak vir die verdediging.

Die skandaal het aan die lig gekom toe Fraser in Junie 2022 ’n saak van ontvoering en geldwassery teen Ramaphosa en Rhoode geopen het.

Terwyl die openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, Ramaphosa van oortreding vrygespreek het, het sy ‘n aanbeveling in haar kantoor se verslag aan die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola gemaak om op te tree teen Rhoode oor sy hantering van die ondersoek.

Die openbare beskermer het bevind dat Rhoode onbehoorlik opgetree het deur die misdaad sonder ‘n geregistreerde saakdossier te ondersoek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui