Die totale skuld wat huishoudings, staatsorgane, sakeondernemings en ander entiteite aan munisipaliteite verskuldig is, neem steeds toe.
Munisipaliteite was einde Desember R305,8 miljard geskuld, ‘n 17%-verhoging bo die R261,5 miljard wat terselfdertyd in 2021/22 geskuld is, toon syfers wat Maandag deur die tesourie bekend gemaak is. Die syfers vorm deel van ‘n algemene verslag van plaaslike regering se inkomste en uitgawes van 1 Julie tot 31 Desember 2022.
’n Bedrag van R3,4 miljard is tot dusvêr afgeskryf vir die skuld wat al 257 munisipaliteite in die land verskuldig is, met R257 miljard van die skuld wat vir langer as 90 dae verskuldig is. Die hoogste bedrag verskuldig – R99,6 miljard – was vir die voorsiening van water, R39,3 miljard vir elektrisiteit, R63,4 miljard vir eiendomsbelasting en R30 miljard vir afvalwater bestuur.
Huishoudings het munisipaliteite R217 miljard geskuld, staatsorgane R23 miljard en sakeondernemings R61 miljard.
Die versuim van verbruikers om hul elektrisiteitsrekeninge te betaal, het meegebring dat munisipale skuld aan Eskom toegeneem het en einde Desember op R56,3 miljard gestaan het. Enoch Godongwana, minister van finansies, het in Februarie in sy begrotingsrede aangekondig dat die tesourie saam met Eskom werk aan ‘n oplossing ingevolge waarvan kragvoorsiener aangespoorde verligting sal bied aan munisipaliteite wie se skuld onbekostigbaar is.
Hy het egter beklemtoon dat die verligting met voorwaardes sal kom. “Om ’n herhaling van skuld opbou oor tyd te vermy, sal die verligting maatreëls aanheg, insluitend die installering van voorafbetaalde meters om die onderliggende gedrag van wanbetaling en bedryf praktyke in hierdie munisipaliteite reg te stel.”
Munisipaliteite vrees dat die belastingaansporing van R15 000 vir huishoudings om sonpanele te installeer die middelklas kliënte van die netwerk af sal haal en hul inkomste en hul kruissubsidiëring van arm huishoudings negatief sal beïnvloed.
Van die provinsies het Sentraal-Transvaal die hoogste bedrag uitstaande skuld van R111 miljard gehad, gevolg deur KwaZulu-Natal op R41 miljard en Oos-Kaap op R32 miljard. Die metro’s was R154 miljard geskuld en sekondêre stede R59 miljard.
“As verbruikerskuld tot minder as 90 dae beperk word, word die werklike realisties invorderbare bedrag op R49 miljard geraam. Dit moet nie geïnterpreteer word dat die Nasionale Tesourie by implikasie voorstel dat die balans deur munisipaliteite afgeskryf moet word nie,” het die Tesourie in ‘n verklaring gesê.
Munisipaliteite het hul krediteure einde Desember R86 miljard geskuld, met die Noord-Kaap, Mpumalanga en Noordwes wat die vernaamste skuldiges was. Die tesourie het gesê die toename in uitstaande krediteure “kan ‘n aanduiding wees dat munisipaliteite likiditeit- en kontant uitdagings ervaar en gevolglik die vereffening van uitstaande skuld vertraag”.
Die totale saldo op lenings vir alle munisipaliteite was einde Desember R59 miljard. Dit sluit langtermynlenings van R44,3 miljard, langtermyn-bemarkbare effekte van R8,4 miljard en ander langtermyn-nie-bemarkbare effekte van R5,1 miljard in, met die res wat uit ander kort- en langtermynfinansiering instrumente bestaan.
Teen einde Desember was die totale beleggings wat deur munisipaliteite gemaak is R43 miljard.
