Die dwelmmuil het onlangs uit Suid-Afrika na Brasilië vertrek onder die dekmantel van inkopies vir haar ‘komende troue’.
’n Vermeende dwelmmuil wat onlangs uit Suid-Afrika na Brasilië vertrek het onder die dekmantel van inkopies vir haar “komende troue” het in warm water beland nadat sy by OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park aangekeer is met kokaïen wat as Bon o Bon-lekkers vermom is.
Die Germiston-gebaseerde Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad Ondersoekspan het Dinsdagoggend op die niksvermoedende 33-jarige reisiger by die lughawe toegeslaan.
Kaptein Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê beamptes het die dwelms ontdek nadat hulle haar bagasie deursoek het.
“’n Deursoeking van haar bagasie het die besending verdowingsmiddels aan die lig gebring, wat vasgestel is as 10 kg kokaïen is. Die waaksame span in die geselskap van doeane en hondeverklikker het die omgewing verder geskandeer vir moontlike helpers en medepligtiges.”
Ramovha het gesê twee ander verdagtes is in die internasionale aankomssaal geïdentifiseer en gemoniteer.
“Hulle is genader en na die polisiestasie vir ondervraging gebring. Hulle het gesê dat hulle vir ‘n reisiger van elders gewag het, maar hulle kon nie bewys daarvan lewer nie. Daar is uiteindelik vasgestel dat hulle eintlik gewag het vir die dwelmmuil afkomstig van Motherwell in Port Elizabeth wat in hegtenis geneem is.
“Die twee medepligtiges is albei Nigeriese burgers van onderskeidelik 37 en 52 jaar oud. Die drietal sal op Donderdag, 29 Augustus 2024 in die Kempton Park-landdroshof verskyn,” het Ramovha gesê.
