Waarskuwing vir giftige seeslange uitgereik vir Tuinroete

Nog ‘n hoogs giftige geelpens seeslang is gevind, hierdie keer een wat op ‘n Plettenbergbaai-strand uitgespoel het.

Owerhede het strandgangers weer eens gewaarsku om enige seeslange wat op plaaslike strande uitspoel, te vermy, nadat nog ‘n uiters giftige geelpens seeslang die afgelope week op Plettenbergbaai se Uitkykstrand uitgespoel het.

Alhoewel dit ongewoon is dat hierdie slange op plaaslike strande beland, aangesien hulle gewoonlik in warmer tropiese waters voorkom, is rowwe see waarskynlik die rede waarom hulle langs die Tuinroete uitspoel, bevestig Chanel Hauvette, CapeNature se senior mariene veldwagter.

Kenners het strandgangers gewaarsku om nie hierdie pelagiese slange te hanteer nie, want hoewel byte skaars is, kan hulle ‘n hoogs giftige neurotoksien lewer wat dodelik kan wees.

Plaaslike slangkenner Lloyd Mostert sê wanneer dié slange uitspoel, kan hulle nie beweeg nie, maar dat dit nie ’n uitnodiging is om hulle te hanteer nie.

“Hulle is hoogs giftig, met geen anti-gif (in Suid-Afrika) nie,” voeg Mostert by. Hy raai enigiemand wat ’n slang op die strand raakloop aan om die Plett Stranding Network-blitslyn by 079 463 4837 te kontak.

Slange wat uitspoel en lewend gevind word, sal gerehabiliteer en in gunstiger toestande vrygelaat word.

Dié slange het die afgelope maand op Tuinroete- en Oos-Kaapse strande uitgespoel. Geelpensslange kan maklik uitgeken word weens hul unieke kenmerke. Die boonste helfte van die liggaam is swart tot donkerblou-bruin van kleur, en die onderste helfte is gelerig van kleur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui