Wanhoop ná ontvoering van Nelson Mandelabaai Sakekamer adjunkpresident

’n Week ná die bekendstelling van ’n ambisieuse plan om die Nelson Mandelabaai-ekonomie om te draai deur samewerkende intervensies met die regering en ander rolspelers, is georganiseerde sake Vrydag verwoes toe ’n direkteur van die plaaslike batteryvervaardiger Auto X vir losprys ontvoer is.

Ontvoerders het op Vrydag 19 Julie 2024 omstreeks 06:00 toegeslaan toe Kelvin Naidoo (51), die vervaardiging en tegniese direkteur van die batteryvervaardiger Auto X, in sy swart Mercedes-Benz na die maatskappy se fabriek in Korsten, Port Elizabeth, gery het.

Naidoo is ook die adjunkpresident van die Nelson Mandelabaai Sakekamer.

Polisiewoordvoerder Kaptein Sandra Janse van Rensburg sê ‘n Nissan NP200-bakkie het teen Naidoo se voertuig gestamp toe hy die fabriek in Lindsayweg, Korsten genader het en hom gedwing het om te stop. Nog ‘n bakkie het agter hom stilgehou en vyf verdagtes met klapmusse het uit die voertuig geklim.

Hulle het hom uit sy voertuig gehaal en in die bakkie gedwing en weggejaag. Die verdagtes het die Nissan NP200 en Naidoo se voertuig op die toneel gelos.

Die polisie het later ontdek die bakkie is in Junie as gekaap in Motherwell aangemeld.

’n Eis vir losprys in ruil vir Naidoo se vrylating is ’n paar uur later gemaak.

Die ondersoek is kort daarna deur die Valke oorgeneem, maar Naidoo bly vermis. Ao Ndiphiwe Mhlakuvana van die Valke het Sondag gesê hulle werk “baie hard” om Naidoo ongedeerd te red.

“Die Valke kan bevestig dat losprysgeld deur die verdagtes geëis is,” het hy gesê.

Terwyl daar die afgelope tyd verskeie hoëprofiel-ontvoerings in Nelson Mandelabaai was, het Mhlakuvana gesê in hierdie stadium kan hulle nie Naidoo se ontvoering met ander voorvalle verbind nie.

“Ons hanteer elke saak volgens sy meriete,” het Mhlakuvana gesê.

Hy het gesê hulle versoek enigiemand met inligting om dit met die ondersoekspan te deel en belowe dat dit vertroulik hanteer sal word.

“Ontvoerings in Port Elizabeth was stil vir ‘n paar maande, maar dit lyk of gevalle weer aan die toeneem is,” het Mhlakuvana gesê. Hy het gesê hulle “kan nie bevestig of ontken dat daar ‘n nuwe sindikaat in die gebied is nie”.

Patroon van ontvoerings
Naidoo se ontvoering kom dae voor ‘n verwagte uitspraak in die borgtogaansoek van die hoofverdagte in twee ontvoerings vroeër vanjaar waar slagoffers vrygelaat is nadat ‘n losprys betaal is.

In Junie het die plaaslike landdroshof getuienis aangehoor dat Nyamezeli Tete (59) vermoedelik by die vlaag ontvoerings in die metro betrokke was. Tete is op 9 Junie naby Fort Beaufort (nou bekend as KwaMaqoma) in hegtenis geneem.

Hy was uit op parool ná ‘n skuldigbevinding in 1996 aan roof en moord. Hy is aangekla van die ontvoering in Maart van Sonam Gajjar, die vrou van ‘n prominente Kariega-sakeman. Gajjar is vrygelaat nadat haar familie R2 miljoen se losprys betaal het.

Terwyl arrestasies in haar saak hangende was, is Rodney “Running” Chen, uit sy voorruitherstelwinkel in North End, Port Eliabeth, ontvoer en eers ses dae later vrygelaat.

Tete se medebeskuldigde Mzonoxolo Grwayibana (38) is op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Dr Bongani Nqini (55) is op 4 Julie deur die Valke en die Suid-Afrikaanse Polisie se taktiese reaksiespan gered nadat hy uit sy spreekkamer in Kwazakhele ontvoer en vir vier dae vir ‘n losprys aangehou is.

Nqini is ongedeerd gered en die voertuig wat vermoedelik by die ontvoering betrokke was, is in Sidwell, Port Elizabeth, onderskep. Die bestuurder is in hegtenis geneem, maar later vrygelaat weens ‘n gebrek aan bewyse.

Vra vir ingryping
Die uitvoerende hoof van die Nelson Mandelabaai-sakekamer, Denise van Huyssteen, het gesê hulle is verpletter deur Naidoo se ontvoering.

Op 16 Julie het die Nelson Mandela Bay Civil Society Coalition aan president Cyril Ramaphosa geskryf om te vra vir dringende ingryping in die metro om “dramatiese stygende vlakke van misdaad te hanteer”.

“Hierdie metro was vroeër een van die veiliger metro’s in die land, maar weens die stelselmatige ineenstorting van wet- en ordetoepassing het hierdie ’n buitengewoon gevaarlike plek vir sy burgers en gemeenskappe geword. Die kommerwekkende misdaadstatistieke, wat hoë vlakke van wrede skietvoorvalle, rooftogte, kapings, ontvoerings, kubermisdade en vandalisme van openbare en private infrastruktuur insluit, kan nie onverpoosd voortgaan nie.

“Hierdie misdade het ernstige gevolge op die veiligheid en sekuriteit van mense, veral kwesbare gemeenskappe, en het ernstige ekonomiese gevolge in terme van die behoud van broodnodige beleggings en werk in ons metro, wat in ‘n provinsie is wat nou meer werklose mense het as wat in diens is,” het die koalisie se Mongameli Peter geskryf.

Peter het gesê die koalisie smeek Ramaphosa om ‘n ramptoestand in Nelson Mandelabaai af te kondig weens die ongebreidelde en buite-beheer misdaad in die metro en ook vir die daarstelling van ‘n toegewyde veiligheids- en sekuriteitstaakspan.

“Hierdie moet geskoolde, bekwame mense wees wat in staat is om ‘n hoë impak veiligheids- en sekuriteitsaksieplan te ontwikkel en te implementeer wat misdaadvlakke aansienlik sal verminder,” lui die brief voort.

Die hoofsweep van die Demokratiese Alliansie (DA) in die Oos-Kaap, Yusuf Cassiem, het ook ‘n brief aan Senzo Mchunu, nuwe minister van polisie, gerig om dringend die misdaad in die metro aan te spreek.

“Ek skryf hierdie brief nadat ’n 23-jarige, swanger vrou op Saterdag, 29 Junie 2024 wreed in haar eie huis, in Helenvale, doodgeskiet is nadat sy ’n bendeverwante skietery gesien het. Dit is ons grondwetlike reg op veiligheid en sekuriteit en om beskerm te word. Die mense van die Northern Areas (‘n groep voorstede in die metro wat veral swaar deur bendebedrywighede geraak word) ervaar ongelukkig nie veiligheid in hul eie huise en strate nie en kan dus nooit vry voel nie.”

Van die ingrypings wat deur die DA voorgestel word, sluit in die verdubbeling van die aantal lede wat aan die plaaslike anti-bende-eenheid toegewys is; deur bykomende speurders aan die SAPD in die metro toe te wys; ontplooiing van die SAPD Nasionale Intervensie-eenheid/ Spesiale Taakmag in bendegeteisterde gebiede; die versterking van misdaadintelligensie; en die verhoging van polisiesigbaarheid.

Die brief vra ook vir die implementering van misdaadbestrydingstegnologie soos hommeltuie, CCTV-kameras en “shotspotter”-tegnologie.

Die ontvoering van Naidoo, wat ’n leiersfiguur is in pogings om die ekonomie in Nelson Mandelabaai om te keer, kom binne ’n week nadat sakeleiers planne van stapel gestuur het om investering in die metro te versterk.

Mchunu het Nelson Mandelabaai Sondag besoek te midde van groot kommer van sakeleiers, burgerlike samelewing en gemeenskapslede oor stygende misdaadvlakke in die metro. Hy het Sondagmiddag met polisiebeamptes vergader en Sondagaand met gemeenskapsbelanghebbendes. DM

One thought on “Wanhoop ná ontvoering van Nelson Mandelabaai Sakekamer adjunkpresident

  1. Te midde van ‘n vlaag hoëprofiel-ontvoerings in die land, is die sakeman van Port Elizabeth, Kelvin Naidoo, Donderdag in die vroeë oggendure deur ‘n taakspan van die Valke gered.

    Die 51-jarige sakeleier en direkteur van die batteryvervaardiger Auto X is vir byna ‘n week vir losprys aangehou.

    Naidoo is ook die vise-president van die Nelson Mandelabaai Sakekamer.

    Sakeman Kelvin Naidoo is ongedeerd opgespoor. Yolisa Mgolodela, provinsiale woordvoerder van die Valke, het aan The Citizen bevestig dat die sakeman ongedeerd gered is en met sy familie herenig is.

    Vroeëre mediaberigte het gemeld dat ‘n losprys van R10 miljoen geëis word. Mgolodela het egter aan The Citizen gesê die Valke “moenie kommentaar lewer oor losprysbesonderhede nie”.

    Meer gedetailleerde inligting oor Naidoo se redding en enige arrestasies sal vrygestel word sodra dit bekend gemaak word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui