Die wag vir antwoorde rondom klein Joshlin Smith – wat nou al byna vyf maande vermis word – is verleng aangesien die verhoor vir die Saldanhabaai-meisie se verdwyningsaak weer uitgestel is.
Die Graad 1 Laerskool Diazville-leerling het op 19 Februarie 2024 op geheimsinnige wyse uit die Middelpos Informele nedersetting verdwyn.
Sedertdien is ‘n uitgebreide soektog – wat so ver as die Verenigde Koninkryk (VK) in samewerking met Interpol gestrek het – van stapel gestuur om die dogtertjie met die treffende groen oë op te spoor.
Haar ma, Racquel “Kelly” Smith, haar kêrel Jacquen “Boeta” Appollis, en die egpaar se vriende Steveno van Rhyn en Lourentia “Renze” Lombaard is in Maart gearresteer en van mensehandel en ontvoering aangekla.
Die vier beskuldigdes het Maandagoggend 15 Julie vlugtig in die Vredenburg-landdroshof verskyn..
Landdros Yolisa Sikhoyo het die verhoor tot 16 September uitgestel om ondersoeke voort te sit.
Die polisie het berig dat die DNS-ontleding van ‘n trui wat op 31 Mei tussen duine in ‘n veld naby Middelpos gevind is, nog onvolledig is.
“Weens die hoeveelheid bewyse wat nog uitstaande is, sal die saak weer uitgestel word om die staat geleentheid te gee om sy ondersoek te voltooi,” het Sikhoyo gesê.
“Die datum waarop die staat en die verdediging ooreengekom het, is 1 September vir verdere ondersoek. Julle is almal in aanhouding tot dan.”
Volgens die staat sal die verhoor na die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad verskuif word.
Smith en Lombaard is in aanhouding in Kaapstad se berugte Pollsmoor-gevangenis en Appollis en Van Rhyn by Malmesbury Korrektiewe Dienste.
Dominee June Dolley-Major, ‘n aktivis wat aktief by die soektog na Joshlin aangesluit het, het in Maart aan Rapport onthul Kelly is swanger. Dolley-Major het verduidelik dat ma’s gewoonlik vir ‘n tydperk van twee jaar toegelaat word om na hul kinders wat in die tronk gebore is, om te sien.
“In die geval van Kelly, sal dit ook bepaal word deur die kriminele aanklagte teen haar,” het sy bygevoeg.
Die 33-jarige Smith, wat erken het dat sy ‘n tik (crystal meth)-gebruiker is, het haar dogter – wat volgens haar ongesteld was – in Appollis se sorg gelaat toe sy ‘n los huiswerk gaan doen het. Met haar terugkeer na die egpaar se blik-en-houthut omstreeks 17:00, was Joshlin vermis.
Appollis ontken enige betrokkenheid by haar verdwyning. Hy beweer die laaste keer wat hy haar gesien het, was toe sy buite gaan speel het.
Tydens Smith, Appollis en Van Rhyn se eerste hofverskyning op 7 Maart het senior advokaat Aradhana Heeramun, wat vir die staat verskyn het, beweer Smith het Appollis en Van Rhyn opdrag gegee om Joshlin vir R20 000 vir muti aan ‘n ander Middelpos-man te verkoop.
Die twee mans het glo dié bekentenis gemaak ná ’n 36 uur lange ondervraging by Saldanha-polisiestasie.
By Lombaard se borgtogverskyning op 18 Maart het staatsaanklaer Jacques van Zyl in die hof onthul dat sy ‘n bekentenis voor haar arrestasie gemaak het. Geen verdere besonderhede van wat beken is, is egter verskaf nie.
Die vorige uitstel van die verhoor is gemotiveer deur die feit dat ondersoekers nog getuieverklarings moes bekom en data-ontleding op die beskuldigdes se selfone moes doen.
Die polisie het ook gewag vir die resultate van die DNS-ontleding van bloedbevlekte klere, ‘n mes en ‘n laken wat op 2 Maart in ‘n oop stuk veld sowat ‘n kilometer van Joshlin se huis gevind is.
Enigiemand met inligting oor Joshlin kan verskaf, kan Crime Stop anoniem kontak by 08600 10111, of SMS Crime Line by 32211.
