Boere in die omgewing van die Somaphepha woongebied (Middelburg Oos-Transvaal) is al moedeloos omdat hul weiding gereeld afbrand.
Pieter Pieterse het 90% van sy weiding op sy plaas verloor weens ‘n brand wat aan Somaphepha se kant ontstaan en oor die pad gespring het.
Elke jaar klokslag breek daar in die Somaphepha omgewing brande uit wat verwoesting saai op plase, en boere sê hulle klagtes val op dowe ore.
Drie Elandslaagte boere het verlede Saterdag erge skade gely na ’n verwoestende brand wat om die Somaphepha nedersetting ontstaan het.
Hulle is van mening dat dit voorkom kon geword het as die Steve Tshwete Munisipaliteit voorbrande gemaak het.
Pieter Pieterse, wie se plaas op die Selonsrivierpad geleë is, het vertel dat hulle 90% van hulle weiding verloor het toe die geweldige wind die vuur oor die pad laat spring het.
Die Pieterse Boerdery is een van ’n paar plase wat naby die Somaphepha nedersetting geleë is, wat onder STLM val en munisipale grond is.
“Somaphepha inwoners gaan gooi gereeld hulle as in die veld, en daar is geen voorbrande om die veld nie, wat elke jaar tot weghol brande lei. Elke jaar spreek boere die munisipaliteit aan oor die probleem, maar nogsteeds word daar niks gedoen nie!” het Anton Coetzee, ook ’n Elandslaagte boer, gesê.
Mnr. Pieterse is van mening dat dit nodig is om druk op die munisipaliteit te plaas sodat daar daadwerklik opgetree kan word om die vernietigende brande te voorkom.
“Daar word geen voorbrande gemaak nie, die pad word nie instand gehou nie, en elke jaar klokslag is daar brande.”
Mnr. Pieterse het verduidelik dat hulle hierdie jaar nog besig is met voorbrande, omdat dit nog so vroeg in die seisoen is.
Mnr. Coetzee het homself ook sterk uitgespreek teenoor die munisipaliteit, en gesê dat hulle klagtes op dowe ore val.
“Die Pieterse’s se hele plaas het byna afgebrand. Hulle het amper hulle voertuie en huis verloor, en selfs hulle vee het amper doodgebrand. Hoekom word daar gewag totdat iemand so erg moet skade ly voordat daar iets gedoen word? Die munisipaliteit moet eintlik gedagvaar word, maar boere het nie noodwendig geld vir regskostes nie,” het mnr. Coetzee gesê.
Mnr. Coetzee het bygelas dat brande elke jaar ’n probleem is, en dat daar verlede jaar alleen 27 brande by Somaphepha onstaan het.
“Die jaar voor dit was daar dertig, en hierdie seisoen was daar al vier wat aan my kant getel was. En die winter het skaars begin! Die grootste brandgevaar lê in Augustus.”
Mnr. Coetzee het ook uitgelig dat brande wat snags of oor naweke plaasvind, dikwels beteken dat boere nie personeel het om te help veg teen die vure nie, omdat hulle af is.
“Ons betaal getrou belasting, maar kry niks daarvoor nie!” het hy omgekrap afgesluit.
Daar is Dinsdag ‘n navraag aan die munisipale mediakantoor gerig oor die boere se klagtes. Sodra ‘n antwoord ontvang word, sal dit gepubliseer word.

Ek stem saam, hoekom moet soveel verlore gaan voordat munisipaliteite optree? Ons in Thabazimbi sit ook met probleme hoofsaaklik veroorsaak deur die munisipaliteit wat sommige infrastruktuur en verantwoordelikhede al ongeveer 30+ jare laat staan het!