Hartenbos-man se moord: Geen borg vir beskuldigde, 2 nog soek

Desmond Share (53) is tussen bosse in Albertinia gekry en sy bakkie is eers dae later naby die grens van Lesotho gevind.

Borgtog is die afgelope week in die Mosselbaai-landdroshof aan die 30-jarige beskuldigde wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ‘n man van Hartenbos, Desmond Share (53), geweier.

Die beskuldigde, Shadreck Mhetu, het Donderdag in die hof verskyn.

Mhetu is reeds etlike maande in aanhouding nadat hy in Augustus 2023 in hegtenis geneem is en aanvanklik aangedui het dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie.

In November 2023 het hy egter aangedui dat hy wel wil borgtog kry.

Share, ‘n sakeman, se liggaam is op 5 Augustus 2023, tussen bosse naby Albertinia gekry, nadat hy vir dae lank vermis was. Sy bakkie is gesteel en is etlike dae ná sy moord op Ficksburg naby die grens van Lesotho gevind.

Share het veelvuldige beserings opgedoen. Geld is ook uit sy bankrekening onttrek.

Mhetu is kort na die voorval in hegtenis geneem in Du Noon in Kaapstad en staar aanklagte van moord, ontvoering en kaping in die gesig.

Twee mans wat destyds naby die grens in Share se bakkie gevind is, is in hegtenis geneem maar word nie met die moord verbind nie.

Nóg ‘n lasbrief is op 12 Desember 2023 deur die Mosselbaai-landdroshof uitgereik vir die inhegtenisname van Danzel Talent Alkulethi, ook bekend as Akwiriano, wat glo by Share se verdwyning betrokke was en nog twee verdagtes, broers Shown (31) en Akim Gondo (25), ook Zimbabwiers, is steeds op vrye voet.

Getuienis

Mhetu het tydens sy borgaansoek getuig dat hy borgtog wil hê omdat hy vir sy vrou en twee kinders, wat volgens hom in Kaapstad woon, moet sorg.

Hy het gesê hy het ‘n werk gehad by ‘n konstruksiemaatskappy op Mosselbaai en dat hy graag daarheen sal wil terugkeer.

Mhetu het een vorige veroordeling en dit was omdat hy onwettig in Suid-Afrika was in 2014. Die staat het ook sy woonadres bevraagteken omdat hy verskillende adresse verskaf het en voer aan hy is ‘n vlugrisiko.

Die ondersoekbeampte in die saak is Adjudant-Offisier Arlene Stokes.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui