Vleis: Dís die verskil tussen plaashek- en kleinhandelpryse

‘n Ontleding van vleispryse deur dr. Frikkie Maré van die Rooivleisprodusente-organisasie dui aan hoekom sekere snitte se pryse in die kleinhandel hoër is as wat die boer vir sy produk kry. Foto: Alani Janeke

Die verskil tussen die prys wat boere vir karkasse kry en wat die verbruiker op die ou end in die kleinhandel betaal, is ‘n gereelde besprekingspunt in die landbou. Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het ‘n ontleding van die scenario gedoen om te bepaal hoe die vurk in die hef steek.

Prysoordrag, wat die aksie is van hoe die prys van ‘n produk deur die waardeketting verander en/of inligting tussen die produsent en kleinhandelaar vloei en omgekeerd, bly ‘n turksvy vir die rooivleisbedryf. “ Elke keer wanneer die produsenteprys van vee onder druk kom, herhaal hierdie onderwerp homself en produsente meen dat hul pryse op ‘n afwaartse spiraal is, terwyl die kleinhandelpryse konstant bly.”

Maré het aan Landbou.com gesê hy kry goeie terugvoer oor die dokument wat hy verlede week op die RPO se webtuiste geplaas en in die organisasie se strukture versprei het. Hy nooi belanghebbendes in die bedryf uit om met hom kontak te maak indien hulle enige vrae oor sy analise het.

“Produsente vergelyk dikwels die prys wat hulle vir karkasse by die abattoir kry met die kleinhandelpryse van die duurste snitte lamsvleis (lendetjops) of beesvleis (filet of lendestuk), en kla dan oor die prysverskil,” skryf Maré.

Vergelyk appels met appels

Die beskuldiging dat daar ‘n groot verskil tussen kleinhandel- en karkaspryse is, word gewoonlik gegrond op ‘n scenario waar die prys van A2-beeskarkasse vergelyk word met die prys van filet- of lendebiefstuk, terwyl die prys van A2-lamkarkasse vergelyk word met die prys van lendetjops. Dit beteken dat die prys van die hele karkas (BTW uitgesluit) vergelyk word met ‘n enkele (dikwels duurste) snit wat BTW insluit.

‘n Karkas bevat egter nie net prima snitte nie, en ons moet ‘n breër siening oorweeg as ons karkas- en kleinhandelpryse wil vergelyk.

Maré skryf dat in ‘n werklike vergelyking van abattoir- en kleinhandelpryse die pryse van ‘n hele karkas en al die beskikbare snitte in die kleinhandel in ag geneem moet word. In ‘n RMRD SA (Red Meat Research and Development SA)-befondsde studie het profs Hugo en Maré (2023) die vergelyking gedoen. “Hulle het ‘n 149,6 kg beessy en ‘n 20,3 kg lamskarkas gekoop, ‘n bloktoets daarop gedoen (dit in alle moontlike snitte opgebreek) met individuele gewigte van alle snitte en toe kleinhandelpryse vir al die individuele snitte van ses (6) kleinhandelaars gekry.

“Die resultate het getoon dat, BTW uitgesluit, die gemiddelde waardekettingmarge op ‘n beeskarkas 33% was, terwyl dit 44% op ‘n lamskarkas was (let asseblief daarop dat die opsie om ‘n hele of halwe karkas op kleinhandelvlak te koop nie ingesluit is nie). Dit moet weer eens beklemtoon word dat dit die marge oor die hele waardeketting is en moet vervoer, verkoeling ens. vir al die rolspelers in die ketting dek. Wanneer ons dit vergelyk met produkte waarvan slegs die kleinhandelmarge so hoog as 30% is, het ons geen basis om te redeneer dat die kleinhandelpryse te hoog is nie.”

‘n lamkarkas ontvang, vergelyk met die pryse wat vir verskillende snitte in die kleinhandel gevra kan word.

Uit die verskillende prysbepalingsstrategieë vir lam is dit duidelik dat die vraag na lendetjops baie hoog is, en daarom kan die hoë marge gerealiseer word. Die vraag na braaipakke is egter laer en die vraag na karkasse baie laag. Die hoë marge op lendetjops dui ook daarop dat ander, laerwaarde-snitte nie in aanvraag is nie. Daarom moet die slaghuis sy wins maak uit die hoë;-aanvraag-snitte, terwyl dit kan verloor op laerwaarde-snitte en selfs heel karkasse.

Die vraag is dan of ons moet aanstoot neem deur die R194/kg vir lendetjops. Die antwoord is NEE. Die feit van die saak is dat hoe meer die verbruiker bereid is om te betaal, hoe meer kan die produsenteprys styg.

Boodskap aan verbruiker

Ter afsluiting skryf Maré in sy verslag produsente moet ophou om die publiek te vertel dat die kleinhandelprys van rooivleis te hoog is. Die enigste ding wat die prysvergelyking van karkas- en kleinhandelpryse van prima snitte op sosiale media doen, is om verbruikers af te skrik om rooivleis te koop.

Wanneer’n produsent aankondig dat hy/sy R80/kg (BTW uitgesluit) vir sy/haar lamkarkas ontvang, terwyl lendetjops op die rak R190/kg (BTW ingesluit) kos, is die boodskap aan die verbruiker dat vleis R80/kg moet kos. Die enigste vleis beskikbaar vir R80/kg is egter varkvleis, pluimvee of vis

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui