Ramaphosa ontplooi 2 828 SANW-lede tydens verkiesing

Cyril Ramaphosa het 2 828 personeellede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontplooi om wet en orde te handhaaf wanneer Suid-Afrikaners Woensdag na die stembus gaan.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, het Dinsdagaand in ‘n aankondiging gesê Ramaphosa het die Nasionale Vergadering ingelig dat die ontplooiing R59 451 704 sal kos.

Magwenya het gesê: “President Ramaphosa het die Waarnemende Speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies ingelig dat die indiensneming van SANW-personeel deel sal vorm van Operasie PROSPER en van 20 Mei tot 7 Junie 2024 van toepassing is.

“Hierdie indiensneming word gemagtig ooreenkomstig die bepalings van Artikel 201(2) (a) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, gelees met Artikel 19 van die Verdedigingswet van 2002 (Wet No.42 van 2002). “

Wetstoepassingsagentskappe is op hoë gereedheid sedert die langverwagte verkiesingseisoen afgeskop het.

News24 het berig dat die Justice Crime Prevention and Security (JCPS)-groepering in sy laaste media-inligtingsessie Suid-Afrikaners verseker het dat streng maatreëls in plek is om te verseker dat die nasionale verkiesings glad verloop.

Die JCPS-groepering het gesê hy het met die regering gekoördineer om te verseker dat enige bedreigings of potensiële bedreigings, wat die integriteit en gladde verloop van verkiesings in gedrang kan bring, hanteer word.

Oudpresident Jacob Zuma se uMkhonto weSizwe Party, wat op 16 Desember van stapel gestuur is, het voorheen met geweld gedreig as Zuma se gesig nie op die stembrief was nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër gesê anargie en geweld sal nie op die stemdag geduld word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui