Noord-Transvaal. – ‘n Gewonde verdagte wat na ‘n skietery met die polisie arrestasie probeer vermy het, is op 21 Mei deur plaaswag- en GPF-lede in hegtenis geneem. Nog ‘n gewonde verdagte is in hegtenis.
Kol. Malesela Ledwaba sê ‘n slagoffer (35) het omstreeks 14:00 op 20 Mei met sy Toyota Corolla op die R510-pad vir drie onbekende mans ‘n geleentheid gegee. Na bewering het die drie die slagoffer gekaap en omstreeks 16:30 tussen Thabazimbi en die Hoopdal T-aansluiting stilgehou. Die slagoffer is glo verskeie kere in die bosse in die bolyf geskiet, waarna die verdagtes met sy motor gevlug het. Hy kon daarin geslaag om hulp van ‘n verbygaande motoris te kry en is deur nooddienste in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal geneem.
Tydens ‘n soektog na die verdagtes is die gekaapte motor omstreeks 18:00 op die R101 buite Modimolle opgemerk. ‘n Oor-en-weer-skietery het gevolg, waartydens waarna die verdagtes beheer oor die motor verloor het. ‘n Padteken is omgery en ‘n heining van ‘n plaas beskadig. Twee van die verdagtes kon vlug, maar die bestuurder (23), wat skietwonde opgedoen het, was in die motor vasgekeer. Hy is tans onder polisiebewaking in die hospitaal. Tydens die inhegtenisneming is ‘n vuurwapen in die motor gevind.
Die soektog na die twee verdagtes het voortgegaan totdat ‘n Zimbabwiese burger met verskeie skietwonde omstreeks 06:00 deur die plaaswag en gemeenskapspolisiëringslede op ‘n plaas in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig is. Dié verdagte is ook onder polisiebewaking in die hospitaal.
Die twee verdagtes sal in absentia vir die besit van ‘n vermoedelike gesteelde motorvoertuig en twee sake van poging tot moord, asook die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie in die Modimolle-landdroshof verskyn, totdat hulle genoegsaam herstel het om self voor te kom.
Die derde verdagte word steeds gesoek. Enigiemand met inligting word versoek om AO Phaladi Makola by 082 749 2233 te bel.
