Die polisie in Limpopo wat op ‘n misdaadtoneel gereageer het, het Maandagoggend ‘n afgekapte kop by die hek van ‘n huis in die dorpie Tshidimbini buite Thohoyandou gevind.
Twee ander mense, ‘n 32-jarige vrou en haar 10-jarige kind is ook aangeval, na bewering deur dieselfde manlike familielid wat daarvan beskuldig word dat hulle hul 41-jarige familielid vermoor en onthoof het.
Brig Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op ‘n klagte by die huis gereageer en op die kop afgekom.
“Toe hulle na die huis voortgaan, het hulle die onthoofde lyk van ’n 41-jarige man gevind wat met ’n tou vasgebind was.”
Die twee ander slagoffers is reeds na die hospitaal vervoer nadat dieselfde man hulle glo ook aangeval het.
“Die 38-jarige verdagte is op die toneel in verband met die gru-voorval in hegtenis geneem.”
Die polisie het ook beslag gelê op ‘n hamer, graaf en mes wat vermoedelik in die pleging van die misdaad gebruik is. Die motief agter die voorval was onbekend.
“Sulke sinnelose, wrede en onmenslike brutaliteit het geen plek in ons samelewing nie, en ons veroordeel dit in die sterkste moontlike terme. Niemand het die reg om iemand se lewe te neem nie,” het lt.genl. Thembi Hadebe, Limpopo-polisiekommissaris, gesê.
Die verdagte sal na verwagting binnekort voor die Thohoyandou-landdroshof verskyn.
