2 gearresteer vir aanranding, roof van egpaar in KZN

Terwyl twee mans agter tralies is vir ‘n aanranding op ‘n bejaarde egpaar, is die derde oortreder steeds op vrye voet.

Twee van die drie mans wat na bewering Vrydag ’n bejaarde egpaar in hul huis in Greytown in KZN aangerand en beroof het, is in hegtenis geneem.

Die mans, onderskeidelik 35 en 38 jaar oud, is in die Gugulethu- en Nhlalakahle-townships in hegtenis geneem.

Die derde man is steeds op vrye voet.

Polisiewoordvoerder van die Umzinyathi-distrik, konstabel Siyabonga Nkwanyana, sê die twee mense wat aangerand is, onderskeidelik 64 en 70 jaar oud, is in hul huis in Cathcartstraat geslaan en ernstig beseer.

“ʼn Onbekende bedrag geld is geneem, asook ʼn kluis met ʼn vuurwapen binne. ’n Saak van huisroof is geopen,” sê Nkwanyana.

Hy voeg by dat die Umzinyathi Distrik Taakspan en Veldsekuriteit onvermoeid gewerk het om die verdagtes op te spoor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui