Die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming het gevalle van bek-en-klouseer (BKB) op een van die plase in die provinsie bevestig.
‘n Geval van bek-en-klouseer is op ‘n melkkudde by Humansdorp in die Kouga bevestig nadat die Nasionale Veeartsenykundige Verwysingslaboratorium epidemiologiese ondersoeke gedoen het.
Dit nadat die diere kliniese tekens van die siekte getoon het en op 1 Mei 2024 het die positiewe laboratoriumresultate die diagnose bevestig.
Die provinsiale departement se hoofdirekteur vir veeartsenydienste, dr Cebisa Mnqeta, het gesê die plaas het aanvanklik sowat 70 diere aangeteken wat kliniese tekens toon en sedertdien gemiddeld 10 nuwe gevalle per dag aangeteken.
Mnqeta het gesê die besmette plaas, insluitend aangrensende buurplase en kontakplase, is onder kwarantyn geplaas terwyl daar gewag word vir laboratoriumuitslae om die teenwoordigheid van die siekte op daardie plase uit te sluit.
“Die eerste bondel monsters is op 3 Mei 2024 na die Nasionale Veeartsenykundige Verwysingslaboratorium verskeep vanaf drie kontakplase insluitend ‘n aangrensende gemeenskaplike area. Al hierdie monsters het negatief getoets vir die virus.
“Die toesig oor naburige plase en op enige ander plaas wat na berig word dat diere tekens of simptome van bek-en-klouseer toon, is aan die gang. Ons het ‘n gesamentlike operasionele sentrum by die Kouga Plaaslike Munisipaliteit gestig vir die koördinering van werk van alle sleutelbelanghebbendes om [die] verdere verspreiding van die siekte in ons provinsie te beperk,” het Mnqeta gesê.
Tekens en simptome van bek-en-klouseer sluit in hiper speekselafskeiding, diere weier om te eet en wanneer die mond oopgemaak word, word vesikels en ulserasie in die tong en bukkale membrane waargeneem, mankheid word waargeneem en die afname in melkproduksie veral by die hoogste produserende melkdiere .
Simptome
Kliniese tekens kan wissel van lig tot ernstig, en sterftes kan voorkom, veral by jong diere.
Mnqeta het boere, vee-eienaars en mense van die provinsie versoek om wakker te wees en na enige tekens en simptome van die siekte in hul kuddes te kyk.
“Boere word aangeraai om nie hul diere onnodig te skuif nie om die verspreiding van die siekte te voorkom. Sou boere verplig voel om hul diere te skuif, moet hulle hul plaaslike veearts kontak vir advies.”
Om die virus op te spoor en te bevat
Mnqeta het bygevoeg dat die departement, in samewerking met geaffekteerde boere en plaaslike belanghebbendes, voortgaan om die oorsprong of bron van die virus te ondersoek deur middel van terug- en vorentoesporing.
As deel van die strategie om die verspreiding van infeksie na die naburige plase te beheer, het Mnqeta gesê die departement sal van vandag af begin met die inenting van alle beeste in die indeksplaas en verwante plase. – SAnews.gov.za
