VRYSTAAT – Twee vroue, onderskeidelik 33 en 45 jaar oud, sal na verwagting Maandag, 29 April 2024 in die Welkom-landdroshof verskyn weens bedrog en diefstal. Hulle is kassiere by ’n apteek in Welkom.
Daar word beweer dat hulle tussen Februarie 2015 en Junie 2020 die apteek bedrieg en kontant en skoonheidsmiddels gesteel het. Hul bestuurder het tekorte opgemerk en begin ondersoek instel. Hy het ontdek dat albei kassiere items verkoop en valse transaksie kansellasies doen nadat die klant vertrek het. Dit het dit laat lyk asof die transaksie ongeldig was en die item nog in die winkel was toe die kliënt in werklikheid betaal het en met die item weg is. Hulle sou daarna die geld in hul sak steek. Verskeie sulke transaksies het daartoe gelei dat die apteek geld ten bedrae van R270 000 verloor het.
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat skoonheidsmiddels wat van ‘n handelaar ontvang is nie op die rakke gesit of in die stelsel gelees is nie. Dit is later bevestig dat een van die verdagtes tydens die inperking die handelaar opdrag gegee het om skoonheidsmiddels by haar woonplek in plaas van die apteek af te lewer. Hierdie produkte het nooit na die apteek gekom nie.
Die saak is by Welkom Ernstige Kommersiële Misdaad Ondersoek aangemeld wat bewyse ingesamel en ‘n waterdigte saak voor die Nasionale Vervolgingsgesag gelê het. Die hof het dagvaarding uitgereik wat onderskeidelik op 25 en 26 Maart 2024 beteken is. Die verdagtes is in Welkom en Johannesburg in hegtenis geneem.
