Om die vraag te antwoord moet ons die dag se gebeure in perspektief sien. Ons kan nie net die liberale media se bril aansit nie. Ons moet na die ware gebeure ook kyk.
Soos met al die opstande het die 16 Jun 1978 Soweto onluste alles behalwe vreedsaam beloop hen het met ongekende geweld gepaart gegaan!
Verdoemende feite rondom die 16 Jun 1978 Soweto onluste
Jeugdag val op 16 Junie en word aan die 1976 Soweto-opstande verbind. In die proses van hierdie jaarlikse herdenking het baie mites ontstaan.
Hoe ontstaan ʼn mite? Jy skep ’n mite deur jóú weergawe van ’n geskiedkundige gebeurtenis as die presiese en enigste waarheid oor te dra. Jy gebruik die feite wat jou pas om die huidige geslag te mobiliseer of te laat skuldig voel oor die verlede. Wat die verlede betref, is ons uitdaging om te kan onderskei tussen feit en mite.
Op 16 Junie 1976 het sewe Soweto skole aan ’n onwettige protesoptog na die Orlando-stadion deelgeneem. Hulle het geprotesteer omdat hulle in Engels en nie in Afrikaans onderrig wou word nie. Die leerlinge se plakkate het bewoordings soos “Away with Afrikaans” en “Afrikaans will spoil our future” op gehad.
Naby Oralando-Wes het die sowat 10 000 kinders polisielede teëgekom. Die leerlinge het die polisie met klippe en bakstene gegooi en die polisie het ’n traangasbom onder hulle ingegooi. ’n Polisiehond is deur die skare doodgemaak. Naderhand het die polisie geskiet. Verskeie leerlinge, waaronder Hector Petersen, is tragies dood.
Die leerlinge het motors omgekeer en aan die brand gesteek. Biersale, winkels en drankwinkels is geplunder en afgebrand. Kinders het uitgeroep: “Kill the whites!” en twee wittes is doodgeslaan. Een van hulle was dr. Melville Edelstein (55) wat sy lewe aan welsynswerk in Soweto gewy het. Hy is uit sy kantoor gesleep en met grawe doodgeslaan.
In 1990 is ’n Hector Pietersen-monument in Soweto opgerig om die gebeure van 1976 te herdenk. In 2002 is ’n museum, wat die gebeure illustreer, daar naby opgerig en ook na Hector Pietersen vernoem. Hieruit lei ’n mens af dat Hector Pietersen die held van die dag en waarskynlik een van die leiers van die leerlinge was.
Die feite is dat Hector Pietersen, as twaalfjarige seun, glad nie aan die optog deelgeneem het nie. Hy het net kom kyk wat aangaan toe hy deur ’n dwaalkoeël getref is. Hy was ook nie die eerste slagoffer van die dag nie. Hastings Ndhlovu, een van die leiers van die optog, was die eerste slagoffer.
Waarom draai alles dan rondom Hector Pietersen? Dit hou verband met die bekende foto waar ’n vriend met Hector in sy arms in die straat af hardloop. Ook die feit dat Hector net twaalf jaar oud was en doodgeskiet is. ’n Jonger kind wat leed aangedoen word, maak mense kwaad.
Meeste van die skole wat aan die onluste deel geneem het, het NIE fakke in afrikaans aangebied nie
Daar is ook geslaag om die idee te vestig dat die optog net oor Afrikaans as onderrigtaal gegaan het. Afrikaans het ’n rol gespeel, maar dit was ’n oorvereenvoudiging van die situasie. In ses van die sewe skole wat betoog het, was geen vak in Afrikaans aangebied nie – alles in Engels. In die sewende skool is Afrikaans vir net een vak gebruik.
In sy verslag oor die onluste in Soweto het regter PM Cillié bevind dat die “Black Peoples Convention” besluit het dat die South African Students Movement Afrikaans moes gebruik om die leerlinge, en so die swart gemeenskap, tot verset te beweeg. Onkgopotse Abram Tiro het aan hierdie organisasies behoort en is as ’n studenteleier uit die Universiteit van die Noorde geskors. Hy was ’n gewilde onderwyser aan die Morris Isaacson-hoërskool in Soweto waar die opstand in 1976 begin het. Wit studente van Universiteit Witwatersrand (Wits) was ook betrokke en het terselfdertyd betogings gehou met plakkate wat gelui het “Don’t start the revolution without us”.
Dat Afrikaans as taal ’n ondergeskikte rede was, blyk uit die feit dat byvoorbeeld die studentesentrum by Universiteit van die Noorde, waar Engels die enigste taalmedium is, ook aan die brand gesteek is. Afrikaans was ʼn slim, maar terloopse rede. Ander griewe, soos teen die Administrasierade, teen die biersale waar hulle ouers dronk word en die Nasionale Party regering se algemene beleid teenoor swart mense, het alles ʼn rol gespeel.
Elke tydperk en regering bring sy eie mites oor die verlede na vore. Dit vertel ons meer van huidige leiers en hulle doelwitte, as van die tydperk in die verlede toe dit gebeur het. Die jaarlikse viering van Jeugdag illustreer dit verder. Amper as ’n verpligte item op die program, word ’n striemende aanval op Afrikaners en hulle taal gedoen. Dit maak geen bydrae tot goeie verhoudinge nie.
Die Afrikaner is nie anders as enige ander volk wat sy geskiedenis betref nie. Ons het foute in die verlede gemaak, maar ons het ook baie om op trots te wees, maar geskiedenis sonder konteks word propaganda. George Orwell het in sy boek 1984 geskryf: Hy wat die hede beheer, beheer die verlede sodat dit by sy huidige doelwitte kan pas.
Die Soweto-opstande: Gebeure soos hulle op 16 Junie 1976 ontvou het
Toe die Soweto-opstande van Junie 1976 plaasgevind het, was dr. Sifiso Mxolisi Ndlovu, die outeur van hierdie boek, ‘n 14-jarige leerling aan die Phefeni Junior Secondary School. Saam met sy klasmaats was hy onder die aktiewe deelnemers aan die protesaksie teen die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal.
In Die Soweto-opstande: Teenherinneringe van Junie 1976, analiseer dr. Ndlovu ook die historiografie van die opstande en besin hy oor herinnering en herdenking as sosiale, kulturele en historiese projekte. Lees ‘n uittreksel van die gebeure soos dit op 16 Junie 1976 ontvou het.
Gebeure soos dit op 16 Junie 1976 ontvou het
Die Cillie-kommissieverslag is hier gebruik om die gebeure wat daardie dag plaasgevind het, te rekonstrueer:
07:45: Kolonel J.A. Kleingeld, stasiebevelvoerder van die Orlando-polisiestasie, het alle beskikbare polisiemanne beveel om gereed te wees. ‘n Swart sersant wat gestuur is om te inspekteer, het verskeie groepe betogers gesien. Die optog het van noord na suid langs Xorilestraat voortgegaan. Die sersant het die Orlando-polisiestasie in kennis gestel dat kinders in die strate marsjeer.
07:50: Brigadier S.W. le Roux, Afdelingskommissaris vir Soweto, het inligting oor die betogers van die plaaslike hoof van sekuriteit ontvang en ses stasiebevelvoerders beveel om patrollies uit te stuur.
08:00: Skoliere met plakkate het by Naledi Hoërskool vergader. Tebello Motapanyane het die studente-optog na Orlando-Wes verby Thomas Mofolo Sekondêre Skool en die Morris Isaacson Hoërskool gelei. Skoliere van Tladi, Moletsane en Molapo Sekondêre Skole het ook opgedaag en aan die protesoptog deelgeneem.
Die situasie raak plofbaar
08:30: Kolonel Kleingeld het versterkings versoek en rewolwers en pistole aan sy manne uitgereik. Met 48 polisiemanne, waarvan 40 swart was, het hy verby die Orlando-stadion na Oom Tom se Saal gegaan, waar betogers bymekaargekom het … Op hierdie stadium het Brigadier Le Roux besef dat die situasie plofbaar was. Hy het te min manne – tussen 300 en 350 – tot sy beskikking gehad om die situasie te beheer.
Die begin van die geweld!
J.B. Esterhuyzen doodgeslaan, Die begin van die geweld
10:55: ‘n Amptenaar van die Wes-Rand Administrasieraad (WRAB), J.B. Esterhuyzen, het langs Khumalostraat (in Orlando-Wes) gery toe hy deur jongmense aangeval is. Hy het probeer om uit sy motor te ontsnap, maar is deur jongmense omring en doodgeslaan. Gedurende hierdie tydperk is afleweringsvoertuie, regeringsgeboue en motors met klippe gegooi en aan die brand gesteek. Treine is ook aangeval.
Dr. Melville Edelstein met grawe doodgeslaan
11:20: Terwyl die woord van polisiebrutaliteit in Soweto versprei het, het WRAB ‘n nuwe beskutte werkswinkel by Orlando-Oos van stapel gestuur. Die funksie is onder andere bygewoon deur dr. L.M. Edelstein, die hoofwelsynsbeampte. Hulle het van die opstande gehoor en Edelstein het per motor na die jeugsentrum in Sentraal-Wes-Jabavu vertrek. Teen daardie tyd was sy motor deur klippe beskadig. Hy het na sy kantoor gehardloop en die deur gesluit. Nog ‘n WRAB-beampte, R. Hobkirk, was in ‘n ander kantoor vasgekeer. Die betogers het hul pad in Edelstein se kantoor gedwing en hom buite gesleep. Hobkirk het ontsnap en is deur lede van die plaaslike gemeenskap beskerm. Edelstein is doodgeslaan. Twee 18-jarige skoliere, K. Dhlamini en L.J. Matonkonyane, is later aangekla van die moord op Edelstein, maar vrygespreek.
12:00: Polisie het wit joernaliste toegang tot Soweto geweier. Hulle het inligting oor die opstand van hul Afrika-kollegas verkry.
12:15: ‘n Niksvermoedende Afrika-maatskaplike werker van die Departement van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling het ‘n wit vroulike studentnavorser gehuisves. Studente op Orlando West Bridge het hul motor gestop en gedreig om die navorser aan te rand. Sy is deur goedgesinde studente beskerm en in die sorg van ‘n plaaslike geestelike geplaas.
Grootskaalse plundering en brandstigting vind plaas
12:30–13:00: SABC-kameraspan en joernaliste is toegelaat om polisiepatrollies in Soweto te vergesel. Drankwinkels by Phefeni/Orlando-Wes is geplunder en aan die brand gesteek. WRAB-geboue is ook geteiken. Polisie het voortgegaan om traangas en skerp ammunisie te gebruik om die situasie te beheer.
14:00: ‘n Groot kontingent paramilitêre polisieversterkings het met tussenposes opgedaag terwyl plundering en brandstigting voortgeduur het met kriminele elemente/tsotsi’s wat voordeel getrek het. ‘n Senior polisiebeampte het ‘n inspeksievlug per helikopter oor Soweto onderneem. Mense was verstrooi en het op verskeie plekke saamgedrom. Daar was chaos; groot dele van die gebied was onder rook, met geboue en motors aan die brand. Drie wit mediese dokters was vasgekeer by Mofolo; ‘n voertuig is te hul redding gestuur.
14:30–17:00: Terwyl die brande en plundering voortgeduur het, het gewonde en geskiet mense steeds na Baragwanath-hospitaal en verskeie plaaslike klinieke gestroom. Mediese personeel was oorweldig. Dit het gelyk of die polisie sonder waarskuwing en onoordeelkundig skiet. Plundering, brandstigting en geweld het voortgeduur. WRAB-kantore en sy drankwinkels by Orlando Wes en Orlando Oos is aan die brand gesteek. So ook die WRAB-kantore in Meadowlands en Diepkloof. Brandstigting en plundering het voortgeduur by Nhlazane, Moroka/Rockville, Mofolo, Chiawelo, Senaoane, Zola, Moletsane en Jabulani. Poskantore, die White City-biblioteek, die kliniek in Senaoane en die Mapetla-hostel is aangeval. Die polisie het ‘n aantal mense in hegtenis geneem en meer mense is gewond en dood.
Om 15:30 het Kolonel Theunis ‘Rooi Rus’ Swanepoel in Soweto aangekom met drie offisiere en 58 polisiemanne. Hulle het in twee taakmagte verdeel. Die mag onder Swanepoel het teen die betogers rondom Oom Tom se Saal te staan gekom. Die skare het ongeveer 4 000 getel en is deur die polisie uiteengedryf wat op hulle geskiet het.
Die geweld duur voort
17:00–20:00: Geweld, dood en brandstigting het voortgeduur. Uitgebrande motors is gebruik om paaie en spoorlyne te versper, terwyl die polisie spoor en pad gebruik het om toegang tot ander dele van Soweto te verkry.
19:00: Die polisie is in kleiner groepe verdeel en spesifieke take toegeken. Generaal-majoor W.H. Kotze, Afdelingsbevelvoerder vir die Witwatersrand, vergesel deur ‘n aantal gewapende mans, het per motor van Moroka-polisiestasie na Jabulani-polisiestasie gery, aangesien radiokommunikasie tussen die twee stasies swak was.
21:00: ‘n Vergadering van die Soweto Ouersvereniging is in dr. Nthato Motlana se spreekkamers gehou om die gebeure van die dag te bespreek. Saam met Motlana was Winnie Mandela, Tebello Motapanyane, ‘n student, en R. Matimba, ‘n onderwyser, onder die teenwoordiges. Mandela het voorgestel dat ‘n massabegrafnis vir polisieslagoffers op Sondag 20 Junie gehou word. Die diens is later verbied.
MY VERHAAL OOR DIE SOWETO-ONLUSTE VAN 1976
Lt-kol Frans Kloppers
Dit is 11:30 op 16 Junie 1976 toe daar aan ons woonstel by Westonaria Polisiestasie se deur geklop word. Ek en my vrou is besig om ‘n feesmaal voor te berei want my oudste Suster en swaer kom by ons kuier van Mafeking af. Voor die deur staan Sersant Meyer uitasem en deel my mee dat ons moet mobiliseer en dat ek 10 minute het om in volle uniform (daardie tyd die winter uniform bestaande uit die grys langbroek, grys hemp en das, paar “Parabellum”-skoene en die tuniek baadjie saam met die holster-belde) en gewapen by die stasie moet aanmeld.
Dikbek oor die ete waarop ek gaan uit mis trek ek in rekord tyd aan, gryp my 9mm Walter Pistool en my R1-geweer en polisie reënjas en hardloop stasie toe.
Wat het Lt-kol Frans Kloppers aangetref?
Daar gekom lig die Stasiebevelvoerder Kaptein Human ons in dat ons na Soweto gemobiliseer word want daar is groot onluste. Luitenant Hercules du Preez is ons Bevelvoerder. Hy gooi vir my die Chevrolet El Toro vangwa se sleutel en deel my mee dat ek die bestuurder gaan wees. Hy en ander lede neem die Landrover en die opruktrok. Ek moet my R1 los en kry HMK om saam te neem as vuurwapen. Ons opdrag is om op die pad tussen die Wes Rand en Soweto by die ander Wesrand voertuie aan te sluit.
Die tweerigting radio in my voertuig kan inskakel op die Soweto radiobeheer se kanaal en toe ons by die konvooi aansluit skakel ek oor na hulle kanaal om meer inligting te kry. Dit is chaos op die lug en dit gaan rof daar in Soweto. Ons word toe met sulke agterpaaie begelei tot by Meadowlands Polisiestasie.
Daar aangekom word ons deur die stasiebevelvoerder Majoor May voorgelig oor die situasie en kry ons opdrag om die heining te gaan beveilig aangesien daar alreeds groot skare gillende en skreeuende gepeupel die polisiestasie omsingel het. (Orlando Polisiestasie was vroeër aangeval.) Ek neem stelling in aan die westelike heining regoor ‘n groot groep jillende mense. Voor in die groep staan vroue en kinders wat vir my voorgekom het asof hulle as skilde gebruik word. Ons word so 10 meter uitmekaar gespasieer. Majoor May staan ongeveer 20 tot 30 meter van my af met megafoon en beveel die skare om uit een te gaan maar hulle ignoreer hom en kom al dreigend nader.
Die volgende oomblik toe begin dit klippe reën uit die skare en toe klap die eerste skote uit die haelgewere en ander vuurwapens. Ek sit die HMK op enkelskote en skiet na klipgooiers wat ek kon sien. Vir oomblik het dit gelyk of die geweervuur geen uitwerking het nie maar na ongeveer 5 minute toe begin die skare retireer.
Daar het versterkings met opruktrokke vol lede opgedaag en al skietende die skare verdryf. Die son het begin ondergaan en ons kon oral sien hoe brand geboue en kon skote hoor klap. Meadowlands Polisiestasie word stil en ons word in groepe verdeel om deur die nag die heining te bewaak. Ander lede word saam met Meadowlands se lede gepos om patrollies in die omgewing te ry.
Ongeveer 23:30 die aand, terwyl besig met patrollie langs die heining, hoor ek ‘n gekap en stel vas dat dit uit ‘n gebou ongeveer 100 meter van die heining kom. Ek roep toe versterkings en ons bekruip die gebou. Een van Meadowlands se lede deel ons mee dat die gebou ‘n drankwinkel is en dat hy oortuig is dat hulle besig is om dit te stroop, vandaar die gekap.
Die vier van ons bekruip die gebou en die volgende oomblik toe sien ons hoe ‘n klomp jonges met kaste bier uit die gebou vlug. Ek skreeu toe hulle moet staan maar hulle bly hardloop. Ek skiet toe ‘n skoot met my pistool en hoor hoe gil een van die klomp en sien hoe hy neerslaan met die kas bier. Die drie ander lede skiet toe ook in die rigting van die vlugtendes.
Die lid van Meadowlands roep toe versterkings met voertuie en ligte in en ons gaan beveilig toe eers die drankwinkel voor ons na die gewonde en ander moontlike gewondes gaan soek. Toe ons op die plek kom waar ek gesien het myne geval het kry ons hom daar met sy bobeen afgeskiet en vol glasstukke soos hy in sy kas bier geval het. Ons kon geen ander gewondes opspoor nie en het ‘n ambulans laat kom om hierdie gewonde een weg te neem na Baragwanath hospitaal.
Ek het vir die res van die nag maar die drankwinkel onder observasie gehou om verdere plundering te voorkom totdat mense van die destydse Bantoe Administrasie raad opgedaag het om die res van die drank te verwyder.
17 Junie 1976
Ses uur die 17de Junie kry ons opdrag om ook patrollie te gaan ry in die omgewing van Meadowlands en Klipspruit. Ons groep van Westonaria ry toe konvooi onder aanvoering van Luitenant du Preez. Hy het ‘n lid van Meadowlands saam met hom wat die area ken en so ry hy voor met die Landrover, ek agter hom en ons Bedford opruktrok agter hom. Ons kry toe berig dat die winkels by Klipspruit geplunder word en aan die brand gesteek is. Ons jaag daarheen en verdryf die groep wat daar besig was en soos wafferse brandweermanne blus ons die vure. Luitenant du Preez gee toe opdrag dat ons soveel as moontlik van die goedere wat in die winkels oor gebly het en nie beskadig was in my voertuig en die opruktrok moes laai om dit te beveilig en verdere plunder te voorkom.
Nadat ons die goedere by Meadowlands Polisiestasie ingehandig het kry ons darem kans om te rus en het die menasie vir ons potte pap gemaak om die honger te stil. Nou kan julle julle indink dit is net mieliepap met niks by nie. Luit du Preez en nog een van die offisiere het met Majoor May gaan praat om te hoor of ons nie van die goedere wat ons ingehandig het kan gebruik om te eet nie en hy gee toestemming. Daar ontdek ons dat al wat ons saam met die pap kon gebruik was van daardie plat blikkies sardientjies in olie en klein blikkies kondensmelk. Mense was dit nou ‘n “feesmaal” vir ‘n honger maag. Hou ingedagte dat meeste van ons die vorige dag laas iets te ete gehad het.
Ons word daardie aand weer in skofte gedeel, slaap plek word in een van die groot lokale ingerig met matrasse wat sommer op die vloer gegooi word. Ek word op die 00:00 tot 02:00 skof ingedeel en kon darem rukkie gaan slaap. Middernag gaan ek aan diens en patrolleer met die El Toro die strate rondom Meadowlands. Aan die einde van my skof oorhandig ek die voertuig aan Faan Bekker en die Soutie. Toe ek in die slaap lokaal kom toe is daar nie meer vir my slaapplek nie.
Ek gaan soek toe maar slaapplek op ander plek maar al die kantore is vol lede wat slaap en al uitweg wat ek het is om dalk in die opruktrok te gaan slaap maar helaas daar slaap toe reeds twee van ons lede voor in die kajuit. Ek loop toe soek-soek tussen die karre wat daar parkeer is en almal is gesluit behalwe ‘n swart Ford Fairlane 500 en ek besef hier is my slaap plek. Nou moet julle onthou ek het net my reënjas gegryp toe ek weg is by die huis en dit word vrek koud. Ek het maar agter op die agtersitplek na lang gesukkel aan die slaap geraak en het amper verkluim.
18 Junie 1976
Ses uur die oggend van 18 Junie 1976 moes ons weer patrollie gaan ry soos die vorige dag. Soweto was toe redelik rustig en ons het nou die plek begin ken.
Terwyl ons so ry begin die klippe op en reën en word daar ‘n gat in die El Toro se kappie op die bak gegooi en die opruktrok kry ‘n paar duike. ‘n Skietery ontstaan en ons is gelukkig om vier jongelinge te arresteer. Al die papierwerk gedoen ry ons verder patrollie toe ons berig ontvang ons berig dat ons moet onttrek en terugkeer na Krugersdorp aangesien daar onluste in Kagiso en Mohlakeng uitgebreek het.
In Krugersdorp aangekom kry ons van Westonaria toe opdrag om terug te keer na ons stasie en dan Bekkersdal gaan patrolleer.
Ek het die aand van die 18de Junie eers weer by my huis gekom. Vrek van die honger en daardie uniform van my vreeslik vuil na drie dae se dra.
