Die geskorste Gautengse regter Tintswalo Nana Makhubele staar moontlike afsetting in die gesig nadat die Regterlike Dienskommissie (RDK) haar skuldig bevind het aan growwe wangedrag.
Dit kom nadat sy ‘n aanstelling as voorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se raad aanvaar het terwyl sy as regter gedien het. Verder het sy versuim om eerbaar op te tree tydens haar ampstermyn by Prasa en is sy by staatskaping geïmpliseer.
In ‘n verklaring Vrydag het die RDK gesê dat hulle die verslag van die Tribunaal wat ingestel is om die bewerings te ondersoek, oorweeg het.
Makhubele het haarself in die moeilikheid bevind nadat ‘n burgerlike samelewingsorganisasie #UniteBehind ‘n klag ingedien het.
Die klag beweer dat regter Makhubele die onafhanklikheid van die regbank ondermyn het en vergoeding van Prasa ontvang het, ‘n rol binne die uitvoerende gesag van die regering. So ‘n rol, het hulle gesê, ondermyn die skeiding van magte en/of die status van die regbank.
Daar is verder beweer dat sy opsetlik of nalatig versuim het om onmiddellik al haar professionele bande te verbreek en versuim het om haar persoonlike en sake-aangeleenthede te organiseer om professionele bande te minimaliseer en ‘n belangebotsing te vermy.
Tydens die tribunaal het Regter Makhubele egter getuig dat sy in Desember 2017 ‘n e-pos aan Regter Dustin Mlambo, wat nou die adjunkhoofregter is, gestuur het met die versoek om haar pligte begin April 2018 te begin.
Na aanleiding van die e-pos het sy ‘n vergadering met Regter Mlambo en Adjunk-Regterpresident Aubrey Ledwaba gehad, waar ooreengekom is dat sy haar pligte op 1 April 2018 sou begin.
Regter Mlambo het egter getuig dat hy onbewus was van Makhubele se aanvaarding van ‘n pos by Prasa. Hy het gesê hy het haar meegedeel dat haar regterlike aanstelling, reeds deur die President goedgekeur, op 1 Januarie 2018 sou begin.
Hy het gesê tydens die vergadering wat sy met hom en Regter Ledwaba gehad het, het sy slegs genoem dat sy sake waarby sy as advokaat betrokke was, en haar pligte by die Watertribunaal moes afhandel.
Regter Mlambo het gesê hy het reeds die diensrooster opgestel aangesien hy aanvaar het dat sy op 1 Januarie 2018 met haar pligte sou begin. Mlambo se getuienis is deur regter Ledwaba ondersteun.
Die tribunaal, onder voorsitterskap van afgetrede regter Achmat Jappie, het gesê dit is hoogs waarskynlik dat sy versuim het om haar aanstelling by Prasa aan Mlambo te noem.
Regter Jappie het Regter Mlambo se getuienis meer geloofwaardig as Makhubele s’n gevind en verklaar dat Makhubele se getuienis oor haar betrokkenheid en begindatum by Prasa verwarrend en misleidend was gebaseer op al die getuienis wat aan die tribunaal voorgelê is.
Die saak is deur die RDK na die Speaker van die Nasionale Vergadering verwys om die aanvang van die verrigtinge van afsetting aan te beveel. Vir hierdie aanbeveling om te slaag, is ‘n tweederdemeerderheidstem nodig voordat die President haar formeel uit haar amp verwyder.
