TLU SA se Jongboer van die Jaar 2025 finaliste word aangekondig

Die ses finaliste van die Jongboer van die Jaar 2025-kompetisie is deur die TLU aangekondig.

Die kompetisie, wat vanjaar vir die 24ste agtereenvolgende jaar aangebied word, vier jong landbouleiers wat met passie, vernuf en vasberadenheid boer, ongeag die grootte of aard van hul onderneming.

Vanaf 14 tot 18 Julie 2025 sal die nasionale paneel van beoordelaars elkeen van die finaliste op hul plase besoek. Hierdie plaasbesoeke vorm deel van die tweede beoordelingsronde waar onder meer na bestuursvernuf, tegniese kundigheid en finansiële bestuur gekyk word.

Die ses finaliste vir vanjaar is:

  • Niel Booyens (28) van Belfast, boer met beeste, skape en graan (mielies, sojas en hawer).
  • Tiaan Barkhuizen (33) van Garies, het ‘n Dorperstoet en boer kommersieël met boerbokke en skape.
  • Thian Heyns (29) van Clocolan, Vrystaat, boer met Sussex stoet- en kommersiële beeste asook mielies, sojas, sonneblom en koring.
  • Martin van Jaarsveld (30) van Greylingstad, Mpumalanga.
  • Willem van der Merwe (36) en Francois du Toit (34) van Chrissiesmeer, Mpumalanga, skryf as vennote in. Hulle is Saaiboere en deel verantwoordelikhede tussen bemarking, beplanning, finansies, instandhouding, proewe en sekuriteit. Willem is ook ‘n prokureur en Francois ‘n tegnikus in bosbou.
  • Francois du Toit (34) skryf ook afsonderlik in met sy fokus op saaigrond.

Die Jongboer van die Jaar-kompetisie staan oop vir enige TLU SA-lid van 40 jaar en jonger. Kandidate boer óf selfstandig óf in vennootskap, mits hul verantwoordelikhede duidelik afgebaken is. Beoordeling geskied objektief volgens internasionale bestuurskriteria deur ‘n onafhanklike paneel van kenners.

Die groot prys vir die wenner sluit in ‘n splinternuwe BYD-bakkie geborg deur Hatfield Motor Groep vir ‘n jaar se gebruik, sowel as R50 000 kontant, geborg deur Manitou. Santam borg die kontantpryse vir die naaswenner en derde plek.

Die drie topfinaliste sal ná afloop van die plaasbesoeke aangewys word, en die wenner sal tydens die TLU SA Kongres op 10 September 2025 bekend gemaak word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui