Die diensverskaffer en persoon aan wie die toergeld oorbetaal is, het verdwyn.
’n Droomvakansie het vir ’n groep bejaarde inwoners van Pietermaritzburg in ’n nagmerrie ontaard nadat hulle tevergeefs op ’n toerbus gewag het wat nooit opgedaag het nie. Hulle pensioen- en spaargeld is gebruik om vir die reis te betaal, maar hulle is in die reën gestrand gelaat.
Die man wat verantwoordelik was vir die hantering van die gelde en die verskaffing van die toerdiens het sedertdien verdwyn en niemand kan hom bereik nie.
Pietermaritzburg SAPD ondersoek ‘n saak van diefstal deur valse voorwendsels nadat ‘n geskatte 20 senior burgers met die slenter gevang is.
UMgungundlovu-distrikspolisiewoordvoerder, sers. Sifiso Gwala, het gesê die beweerde oortreding het tussen 2 Augustus en 13 Desember plaasgevind.
Kaartjies vir die vyf dae lange toer van vier nagte, het ‘n allemintige R4 350 per persoon gekos wat toegangsfooie na bestemmings wat by die toer ingesluit is, uitgesluit het. Een van die bestemmings was Warmbad.
Volgens die slagoffers van die beweerde bedrogspul was die deposito R1 000 en die vermeende swendelaar het gevra dat toegangsgelde vir Sun City Resort (R450 per persoon) en Warmbad (R215 per persoon) aan hom betaal moet word deur middel van ‘n elektroniese fondsoorplasing.
Die klaer het gesê dat hy voorheen saam met die maatskappy gereis het, en daarom het hy besluit om weer van die maatskappy se dienste gebruik te maak. Die klaer het gesê hy het sowat R15 045 vir homself, sy vrou en ‘n vriend van hulle betaal om op die reis te gaan en dat hy geen woorde het om die ontstellende ervaring te beskryf nie.
“Ons het in die reën gestaan en wag vir die bus om ons te kom haal toe ons twee uur later en nadat talle pogings om die persoon te bereik misluk het, besef ons is bedrieg,” het hy gesê.
Hy het gesê sommige mense wat vir die bus gewag het, het gelyk asof hulle gaan huil, aangesien hulle betalingsplanne vir die toer opgestel het, daarna uitgesien het.
“Ek hoop die polisie stel ondersoek in, maar ek weet hierdie ondersoeke kan baie lank neem en ek het geen hoop dat ons ons geld sal terugkry nie.”
Die dogter van ‘n vrou wat geskeduleer was om op die toer te wees, het gesê sy was tevrede met die inligting wat hulle voortydig verkry het wat ‘n gedetailleerde reisplant ingesluit het.
“Hy was ook openhartig oor wat nie by die toerprys ingesluit is nie, byvoorbeeld, toegangsfooie sal ook betaal moet word,” het sy gesê.
Sy het gesê sy het haar ma daardie Vrydagoggend kort voor 09:00 na die ontmoetingspunt geneem en saam met meer as ‘n dosyn ander tot omstreeks 11:00 gewag voordat hulle besef het die bus kom nie.
Sy het gesê sy voel verskriklik jammer vir al die bejaardes wat met hul toelae en pensioen betaal het vir die reis, aangesien sommige meer as R10 000 spandeer het omdat hulle as ‘n paartjie of saam met ‘n vriend gaan.
Die klaer het gesê daar was twee optelpunte in Pietermaritzburg – een in Hayfields en nog een in Northdale.
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die senior burgers bedrieg het, se telefoonnommer gaan onmiddellik oor na stempos. Weekend Witness het daarin geslaag om sy vrou in die hande te kry, wat gesê het sy het niks van hom gehoor nie en weet van geen ander manier om hom te kontak nie, behalwe sy telefoonnommer.
Sy het gesê hy het wel onlangs na haar huis toe gekom, maar hy het vinnig vertrek aangesien sy ‘n beskermingsbevel teen hom het. Sy het gesê sy is bewus van die beskuldigings, maar dat sy en haar man nie sedert Julie saam was nie en dat sy vir ‘n ruk lank nie deel van die toerbesigheid was nie.
“Ek het geen geld ingesamel nie, en ek is nie deel van die besigheid nie,” het sy gesê.
