Tientalle in Mosambiek is deur ‘intense’ sikloon gedood

Minstens 34 mense is dood ná “een van die mees intense storms wat nog ooit aangeteken is” in die noorde van Mosambiek, het die land se Nasionale Instituut vir Risiko- en Rampbestuur (INGD) gesê.

Sikloon Chido het die noordelike provinsies getref wat gereeld deur siklone geteister word. Dié gebied word ook geteister deur aanvalle van Islamitiese militante.

Sikloon Chido het Mosambiek Sondag getref, nadat hy verwoesting in die Indiese Oseaan se Mayotte-gebied gesaai het.

Daar word gevrees dat honderde dood is in Mayotte, ‘n Franse streek. Verskeie mense insluitend meer as 200 Rooi Kruis-vrywilligers, word vermoedelik vermis.

Die INGD het die situasie in Mosambiek “hartverskeurend” genoem en gewaarsku dat die dodetal waarskynlik sal styg.

Die sikloon het in Cabo Delgado geval voordat dit verder binneland toe gewoed het na Niassa en Nampula, waar ‘n driejarige meisie onder die sterftes was.

Die meeste van diegene wat deur Chido gedood is, is deur vallende voorwerpe getref, soos van vernietigde baksteenmure, het Paulo Tomas, INGD-woordvoerder, gesê.

Meer as 34 000 Mosambiekse gesinne het hul huise aan Chido verloor, wat winde van ongeveer 260 km/h (160 mph) meegebring het.

Skole, gesondheidsfasiliteite en vissersbote is ook vernietig.

Die staatsbeheerde kragmaatskappy Electricidade de Moçambique (EDM) het aangekondig dat sowat 200 000 kliënte sonder krag is.

Chido is die sterkste storm wat die gebied in meer as 90 jaar getref het.

Net verlede jaar is Mosambiek deur sikloon Freddy getref, een van die langste storms wat nog in die Suidelike Halfrond aangeteken is, indien nie in die hele wêreld nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui