Klopjag by Shauwn Mkhize se huis: baie wapens word gevind

‘n Sluipmoordaanval op senior advokaat Coreth Naudé is op 18 Julie 2024 geloods buite ‘n hotel naby die Gateway-winkelsentrum, in Durban-Noord. Naudé, wat drie keer in die bolyf en gesig geskiet is, was in Durban om verskeie hoë profiel belastingontduikingsake, onder andere Shauwn Mkhize te ondersoek.

Die polisie en amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Dinsdag vandeesweek op Shauwn Mkhize se huis toegeslaan waar hulle meer as net die dokumente en bates gevind het waarna hulle gesoek het.

Volgens die SAID skuld Mkhize meer as R37 miljoen aan onbetaalde belasting. ’n Mercedes Benz G-voertuig, ‘n Ferrari, ‘n Maserati en ’n Rolls Royce is van die motors waarop beslag gelê is.

Die SAID het Dinsdag in ‘n verklaring gesê die klopjag was deel van sy “poging om belastingontduiking en kriminele aktiwiteite wat die land se ekonomie ondermyn, te bekamp”.

“Hierdie besluit is ‘n deurslaggewende stap in die SAID se strategiese doelwit om dit al hoe moeiliker en duurder te maak vir belastingbetalers wat opsetlik by kriminele aktiwiteite betrokke raak.

“Die SAID het die afgelope paar jaar ywerig ondersoek ingestel en op die konstruksiebedryf toegeslaan sodat dit aan belastingwette voldoen.”

Meer as 40 vuurwapens is saam met dokumente in ‘n kluis in haar huis gevind. Ses ander vuurwapens is in ‘n ander deel van haar huis in La Lucia versteek gevind

Die gewere wat in die kluis gevind is, behoort glo aan ‘n taxibaas wat vroeër ‘n voormalige polisiebeampte van die presidensiële beskermingsdienste was. Die voormalige beampte verskaf glo veiligheidsdienste aan Mkhize.

Mkhize moet toestemming hê van beide die eienaar van die vuurwapens en die polisie om die gewere te stoor . Onder die wapens wat gevind is, was gewere, haelgewere en handwapens asook 200 rondtes ammunisie. Die wapens sal vir ballistiese toetsing en verifikasie gestuur word en daar sal ondersoek gedoen word om te bevestig of die lisensies van die wapens nog geldig is.

’n Veiligheidswag op die perseel is in hegtenis geneem nadat hy met talle wapens gevind is waarvan die lisensies verval het.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het gesê Mkhize is nie verhewe bo die wet nie.

“Die SAID sal nie afstand doen van die uitvoering van sy mandaat sonder vrees, guns of vooroordeel nie, ongeag enige persoon se status in die samelewing,” het hy gesê.

“Vandag se soek-en-beslagleggingoperasie moet ‘n ondubbelsinnige boodskap aan almal kommunikeer dat wetstoepassingsagentskappe sal optree om wetteloosheid te stop.

“Die kwesbaarstes in ons samelewing, bejaardes en kinders is deur belasting afhanklik van die staat om armoede, werkloosheid en honger te verlig en te versag. Enige opsetlike uittarting van die wet sal weerstaan ​​word.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui