Die JSE het die ekonoom Thabi Leoka met R500 000 beboet en haar verbied om enige direkteur- of beamptepos by ‘n publieke genoteerde maatskappy te beklee omdat sy oneerlik was oor haar kwalifikasies.
Leoka het gedien as ‘n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur op die direksies van genoteerde maatskappye soos Remgro Beperk, Anglo-American Platinum Beperk en Netcare Beperk onder die dekmantel dat sy ‘n PhD in Ekonomie van die Universiteit van Londen in 2008 verwerf het.
Sy was ook deel van president Cyril Ramaphosa se presidensiële ekonomiese adviesraad.
Die JSE het Vrydag die aankondiging gemaak dat daar geen waarheid is dat sy so ‘n kwalifikasie besit nie, wat ‘n oortreding van die bepalings van die Algemene Beginsel van die Noteringsvereistes is.
JSE het gesê Leoka het talle geleenthede gehad om aan hulle [JSE] substantiewe bevestiging te gee dat sy wel ‘n PhD-kwalifikasie het, wat sy versuim het om te doen.
Met inagneming van die inligting tot die JSE se beskikking, sy pogings om die inligting te verifieer, en Leoka se versuim om substantiewe bevestiging te gee, het dit tot die gevolgtrekking gekom dat sy oneerlik was oor haar PhD in Ekonomie.
“As gevolg van hierdie valse verklarings en wanvoorstelling het die maatskappye op hul beurt Leoka se verkeerde inligting ten opsigte van haar akademiese kwalifikasie in hul Sens-aankondiging en jaarverslae gepubliseer.”
Leoka het sedertdien bedank as direkteur van die publiek genoteerde maatskappye waar sy poste beklee het.
President Cyril Ramaphosa het ook haar lidmaatskap in die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad beëindig.
“Enige direkteur, en veral ‘n direkteur van ‘n genoteerde maatskappy, moet aan die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur, nakoming, deursigtigheid en etiese gedrag voldoen, met die plig om altyd in die beste belang van die maatskappy op te tree, met inagneming van sy belanghebbendes, en die breër mark.
“Leoka se wanvoorstelling van haar akademiese kwalifikasies wek ernstige kommer oor haar integriteit en oor haar geskiktheid om as direkteur op te tree van maatskappye wat op die JSE genoteer is.
Verder vererger haar voortdurende verontagsaming van die JSE se herhaalde pogings om haar te betrek by hul ondersoek die JSE se bekommernisse, wat ‘n ontstellende gebrek aan aanspreeklikheid en verbintenis tot haar verpligtinge teenoor die JSE, die Maatskappye en die beleggerspubliek aandui.
